Die Odendaalsrus-gemeenskap se opstand teen misdaad het verseker dat twee verdagtes wat by twee verskillende sake van moord en poging tot moord betrokke was, in hegtenis geneem is.
Met die eerste voorval op 17 Oktober 2023 is ’n polisielid in kennis gestel van ’n steekvoorval wat voor ’n kuierplek in Odendaalsrus plaasgevind het.
Gemeenskapslede het die verdagte agtervolg en uitgeken. Hy is deur die polisiebeampte in hegtenis geneem.
Die slagoffer is verskeie kere met ’n mes gesteek en met ’n wynbottel geslaan. ’n Saak van poging tot moord is by die Odendaalsrus-polisiestasie aanhangig gemaak.
AO Andries Leshoro van die Odendaalsrus-speurdienste was die ondersoekbeampte vir die saak.
Die 27-jarige Vuyo Diphoko is agt jaar tronkstraf opgelê vir poging tot moord.
In ’n ander saak, op 25 Januarie in K5 Kutlwanong, is polisielede deur gemeenskapslede voorgekeer en ingelig dat verdagtes wat betrokke was by ’n poging tot moord by ’n nabye snoepie was.
Die twee verdagtes, onderskeidelik 44 en 25 jaar oud, is deur die gemeenskapslede agternagesit, aangekeer en toe aan die polisie oorhandig.
Die 53-jarige slagoffer is na die polisiestasie gehaas, waar hy aan sy steekwonde beswyk het. Kapt. Kaiser Chalube het die saak ondersoek.
Die 44-jarige verdagte is vrygespreek, terwyl die 25-jarige James Makote tot tien jaar tronkstraf gevonnis is.