Is die Kerstyd dalk vinniger hier as wat jy gedink het, en het jy steeds nie by die bak van ’n vrugtekoek uitgekom nie?
Dié kitsresep lewer ’n vrugtekoek van 20 cm in deursnee, en die koek hoef glad nie te verouder nie.
Bestanddele:
1 blik (410 g) fyngemaakte pynappel
1 pak (500 g) droëvrugte koekmengsel
250 ml suiker
125 g margarien
5 ml gemengde speserye
5 ml koeksoda
2 eiers
250 ml koekmeelblom, ongesif afgemeet
250 ml bruismeel
1 ml sout
Opsioneel: Voeg neute, kersies en fyngesnyde stukkies gedroogde vye by die mengsel vir ’n ryker vrugtekoek.
Metode:
Roer die pynappel saam met die sap, droëvrugtemengsel, suiker, margarien, gemengde speserye en koeksoda saam in ’n kastrol totdat die suiker opgelos het.
Verhit die mengsel oor matige hitte tot kookpunt en kook dit vir 3 minute. Laat dit heeltemal afkoel.
Verhit die oond tot 190° C. Indien jou oond geneig is om koeke te brand, bak liefs by 180° C en dan by 160° C.
Smeer ’n koekpan van 20 cm in deursnee en voer dit met gesmeerde waspapier uit.
Voeg die eiers, koekmeel, bruismeel en sout by die vrugtemengsel en meng goed. Skep die deeg in die koekpan, maak dit gelyk en bak vir 30 minute.
Bedek nou die koekpan bo-op met bruin- of koerantpapier, verlaag die oondtemperatuur tot 160° C en bak die koek ’n verdere 90 minute tot gaar.
Sprinkel ’n bietjie warm brandewyn oor die warm koek ná dit uit die oond gehaal is, indien verkies.
Laat die koek heeltemal in die pan afkoel. Bewaar dit in ’n digte houer tot nodig.
Bron: Huisgenoot Wenresepte 2