Drie verdagtes is op heterdaad betrap terwyl hulle transformator-onderdele ter waarde van R60 000 aan ’n skrootmetaalhandelaar in Welkom verkoop het.
’n Lid van die Welkom K9-eenheid het Dinsdag (24/01) inligting oor verdagtes wat transformator-onderdele verkoop by een van die skrootmetaalhandelaars in 13de Straat in die Nywerheidsgebied, Welkom, ontvang. By dié handelaar het hy die drie verdagtes gekry, besig om elektriese transformator-onderdele, ’n transformatorsilinder, ’n transformator-oliedop, skakelaarseëls, olietenks, ’n transformatorskakel-ratdeksel en transformatordekplate te verkoop.
“Die drie verdagtes, onderskeidelik 22, 34 en 48 jaar oud, staar die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in die gesig. ’n Bykomende klag van vernietiging van infrastruktuur kan bygevoeg word,” sê kapt. Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte vir die Lejweleputswa-polisie.