Die Van Deventer-gesin het op 31 Oktober en 1 November aan die Vrystaatse Saalperdkampioenskap in Philippolis deelgeneem, waar hulle uitstekende uitslae behaal het.

“Die Woensdagoggend, in die gietende reën, het ons gesin die pad na Philippolis aangedurf,” sê Lizandie van Deventer.

‘n Fenomenale skou gehad

Sy sê die skouterrein het ongeveer 200 perde verwelkom en die standaard van die pragtige diere was eersteklas.

“Ons het ‘n fenomenale skou gehad waar dit bewys is dat harde werk inderdaad beloon word. Ons kon nie vir beter vra ter afsluiting van ons 2025-skoujaar nie.”

Casting Nite, vertoon deur Andries Maripa vir Lizandie van Deventer, het die 5G-natuurlike maanhare-en-stert-afdeling gewen uit agt vertoners wat meegeding het, en hy is Saterdagmiddag vyfde geplaas in die kampioen 5G-afdeling, uit 12 vertoners.

LEES OOK: Goudveld-dansers mik oorsee

Die perd Hantam American Grace is derde geplaas in die amateur-enkeltuig-afdeling, met Lizandie van Deventer aan die leisels.

5-jarige behaal plek

Die 5-jarige Jaen-Carlo, met sy merrie Lexington Miss Danero, het twee tweede plekke behaal in die leiriem sewe jaar en jonger, stapklas, ryperd- en ruiterkuns, asook twee vierde plasings.

Jaen-Carlo (5) met sy merrie, Lexington Miss Danero.

Lexington Miss Danero het haar staal getoon in die 5G-plesierperd-afdeling en ‘n vyfde plek behaal.

“Ons is dankbaar dat ons as gesin ons droom saam kan uitleef en ons is opgewonde vir wat 2026 vir ons inhou.”

Die gesin se perde word by die Unicorn Riding Club in St Helena in Welkom op stal gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 11 December 2025
    Vista Edition 11 December 2025

Gift this article