Gemeenskapskoerante in die sentrale streek wat na Novus Holdings oorgaan, is: NoordkaapBulletin, VrystaatKroon, Vista, BloemExpress en BloemNuus.Foto: Lientjie Mentz


Die transaksie tussen Media24 en Novus Holdings is aan die gang nadat die Kompetisie­kommissie op 30 Oktober sy goedkeuring gegee het.

Belangrike verwikkelinge rakende die gemeenskaps­koerante (waaronder Vista) wat tot onlangs onder Media24 geval het en nou na Novus Holdings oorgaan, is hiermee bekend gemaak.

Media24 se hiperplaaslike gemeenskapsnuusafdeling, wat 37 uitgawes van koerante met ’n ABC van meer as een miljoen eksemplare per week insluit, sal ononderbroke met bedrywighede voortgaan gedurende die tydperk van oorgang.

Novus Holdings, ’n mark­leier en een van Afrika se grootste drukproduksie­bedrywighede, werk nou saam met die uitgewers van gemeenskaps­koerante om te verseker dat uitgewersbedrywighede ononderbroke bly.

Dit beteken lesers en adverteerders kan voortgaan om die lewering van uitstaande hiperplaaslike nuuswaarde te verwag.

André van der Veen, uitvoerende hoof van Novus, het sy geesdrif uitgespreek oor die samewerking met die personeel en bestuur van gemeenskapskoerante.

Hy gee die versekering dat Novus daartoe verbind is om waarde aan lesers en adverteerders te lewer, en erken die belangrike rol wat gemeenskaps­koerante in die samelewing speel.

Esmé Smit, hoofbestuurder van Gemeenskapsnuus, is ewe opgewonde oor die geleenthede wat die oorgang vir die gedrukte, asook die digitale, nuuslandskap bied.

Sy beklemtoon die unieke en gekoesterde plek wat hiperplaaslike nuusmedia in die hart en gedagtes van die gemeenskappe wat dit bedien, beklee.

Die oorgang het ten doel om die gehalte van die publikasies te verbeter en te verseker dat hulle toepaslik bly en verbind is met die gedeelde ruimte waarin gemeenskappe woon.

“Ons sal voortgaan om daar te wees wanneer die meeste winkeldeure die eerste keer oopmaak; verslag doen oor plaaslike sport, skolenuus, munisi­pale nuus, plaaslike geleenthede; en lesers inlig oor opbouende en ook enige onsmaaklike praktyke in ons gebiede. Ons sal voortgaan om ons doel te dien, naamlik om ’n ware vriend vir elke huishouding in ons verspreidingsgebiede te wees,” sê Smit.

Die plaaslike koerante wat by die transaksie ingesluit is, bedien verskeie streke, insluitend die Noord-Kaap, Vrystaat, Oos-Kaap, Bolandstreek, en die Kaapse Skiereiland en township-gebiede van Kaapstad.

You need to be Logged In to leave a comment.