’n Dosent aan die Noordwes-Universiteit (NWU) wat in 2013 aan die Goudveld-Hoërskool in Welkom gematrikuleer het, het sy doktorsgraad in filosofie en kurrikulum­studie aan die NWU verwerf.

Matthys Johannes Uys het sy proefskrif, “Inclusion of queer literature in a school for language education at a university: A framework,” binne twee jaar voltooi.

Uys het sy meestersgraad se dissertasie, “A literary analysis of queer texts: Guidelines for senior and further education and training English language teachers,” in Oktober 2020 voltooi.

Hy het in 2014 vir sy BEd-graad in onderwys (wiskunde en Engels) by die NWU ingeskryf, in 2016 by die Golden Key International Honours Society aangesluit op uitnodiging en met lof as een van die top-5-studente vir onderwys (Engels) in 2017 erken.

Hierdie is gevolg deur sy BEd-honneursgraad in Engels vir onderwys wat in 2018 met lof verwerf is.

In 2019 is die prestige-beurs aan Uys toegeken en in 2020 het hy sy meestersgraad verwerf.

Uys was in verskeie hoedanighede werksaam by die NWU en is sedert 2021 ’n vas aangestelde dosent aan die universiteit se Vanderbijlpark-kampus.

Hy het sy PhD-proefskrif binne twee jaar geskryf en in 2023 sy graad verwerf.

Hy het ook reeds twee artikels gepubliseer X een as mede-outeur en die ander op sy eie. Hy het ook by twee internasionale konferensies lesings aangebied.

Aan die begin van 2023 het hy ’n tweede MEd-graad, tesame met ’n medewerker, met lof verwerf.

In sy vrye tyd geniet Uys dit om te lees en is ’n ywerige boekversamelaar.

Hy beoog om hom eendag as ’n senior lektor te bekwaam, met die doel om eendag tot professor bevorder te word.

You need to be Logged In to leave a comment.