Geldsake knel ál meer

Matjhabeng het met ’n finansiële krisis van reuse afmetings te kampe, met die gevolg dat daar geen diens­lewering in dié plaaslike munisipaliteit is nie.


Matjhabeng het met ’n finansiële krisis van reuse afmetings te kampe, met die gevolg dat daar geen diens­lewering in dié plaaslike munisipaliteit is nie.

Die lae invorderingskoers is kommerwekkend.

“Die invordering was vir die kwartaal slegs 54%, waar dit 75% moet wees. Die feit dat daar geen rekenings aan inwoners gestuur is nie, is veral ’n bron van kommer,” sê Susan Taljaard, VF Plus-raadslid in Matjhabeng.

“Die aanlyn betaalstelsel is af en só kan mense nie betaal nie, en daar is ook vir die maand geen meterlesings gedoen nie – inwoners word ’n geskatte bedrag aangeslaan. Daar is talle klagtes van foutiewe rekenings van inwoners ontvang.”

Die reeds vuisvoos in­woners moet betaal, maar dienste word nie gelewer nie.

Inwoners sit soms dae sonder water, weens waterlekke. Munisipale amptenare draai bloot die waterkleppe toe, maar gee nie dadelik aandag aan die kwessie nie. So bly die watertoevoer onbepaald onderbreek, of die waterdruk is as gevolg hiervan baie swak.

“Daar is nie voldoende geld om materiaal aan te koop nie. Soms is dit materiaal wat nie baie duur is nie wat benodig word,” sê Taljaard.

“Intussen word die betalende inwoners verder belas met skerp stygings in diensteheffings.”

Taljaard sê die netelige vraag kan gevra word: Hoeveel van die uitstaande dienstegeld is te wyte aan wanbetalende amptenare en politici?

In Matjhabeng word niemand ontsien as dit by die straf van ’n regerende party kom nie, en sefs die mense wat pligsgetrou betaal, trek swaar.

Inwoners in betalende wyke sit dae, en soms weke, sonder krag en water.

Hier loop Odendaalsrus en Riebeeckstadters weekliks deur, waar óf die krag óf die water af is. Soms is dit albei.

As Riebeeckstad sonder water is, volg Hennenman, Thabong en Ventersburg op sy hakke want die dam en reservoir-vlakke moet eers kans kry om te styg.

“Betalende wyke sit gereeld in die donker as gevolg van ligte wat af is – te danke aan diefstal en sabotasie – en dit het ’n nadelige invloed op ons misdaadsyfers. Daar is Oook riool wat steeds vrylik in ons woonbuurte vloei. Dit kom alles neer op die ANC se onvermoë of politieke wil om Matjhabeng om te draai na ons eens mooi dorpe, en so beleggers te lok,” sê Taljaard.

Igor Scheurkogel van die DA beaam die lot van die inwoners.

“Elke week in Odendaalsrus sit ons met ’n krisis, en hier is nie ’n munisipale laaigraafvoorlaaier om die beleërde inwoners in Wyk 35 en Wyk 36 by te staan nie. Hospitaalpark loop deur onder die wanadministrasie, daar is nie elektrisiteit nie en daar is nie ’n laaigraafvoorlaaier om te help om die probleem op te los nie,”sê Scheurkogel.

In Eldorie is benarde toestande met massiewe waterlekke en niks kan hieraan gedoen word omdat die loodgieter nie grondverskuiwingstoerusting’n voorlaaier in die hande kan kry nie.

“Ons word elke dag deur watertekorte in die gesig gestaar, en tog laat die munisipale bestuurder toe dat miljoene liters water vermors word,” sê Scheurkogel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.