In die vroeë oggendure van Saterdag 4 Mei is daar by die Goudveld-Hoërskool se instapkluis ingebreek, en ’n groot bedrag kontant, waaronder geld wat vir behoeftige leerlinge ingesamel is, is gebuit.
Die skool het op Donderdagaand 2 Mei sy Mnr. en Mej. Goutie-kompetisie aangebied.
Madri Harmse, ’n waarnemende adjunkhoof van die skool, sê die kluis het kontant bevat wat tussen Donderdagmiddag en Vrydag ontvang is.
Van die geld wat dié kompetisie en Vrydag se “civvie-dag” ingebring het, was in die kluis, asook skoolgeld wat oor dié twee dae betaal is.
Harmse het nie vermeld hoeveel geld gebuit is nie, maar het gesê dit is “geweldig baie”.
Netwerk24 verneem sowat R77 000 is gesteel. Twee selfone, ’n skootrekenaar en ’n projektor is ook uit die kluis gesteel.
Die geld wat met die Mnr. en Mej. Goutie-kompetisie ingesamel word, is ten bate van die skool se fonds vir leerlingontwikkeling. Dié geld help onder meer om behoeftige leerlinge met toere, skoolklere en toerusting by te staan.
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê die polisie ondersoek ’n saak van sakeroof.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
– Marita Herselman