Die aankondiging dat die Welkom-lughawe in ‘n vraglughawe omskep gaan word, het groot ‘n opskudding in die gemeenskap en sakewêreld veroorsaak.
In ‘n dringende nuusverklaring doen die DA ‘n beroep vir deursigtigheid en verantwoordbaarheid van alle belanghebbendes, wat betrokke is by dié projek om die vraglughawe hier te vestig.
Dr. Igor Scheurkogel en DA-raadslid Estelle Dansey het in ‘n gesamentlike verklaring gesê dat die projek reeds die afgelope 15 jaar bespreek en beplan word, maar steeds in geheimhouding gehul is. Onbeantwoorde vrae en beweerde onreëlmatighede is aan die orde van die dag.
Scheurkogel sê dat die DA deur die gekose komitee oor openbare infrastruktuur en vervoer in die Nasionale Raad van Provinsies (NCOP) vrae aan die Departement van Vervoer voorgelê het, om die status van die projek te verduidelik.
“Die minister van vervoer, Barbara Creecy, het sedertdien bevestig dat haar departement nie bewus is van enige amptelike aansoeke of goedkeurings wat verband hou met die lughawe se ontwikkeling nie,” sê hy.
Die DA in Matjhabeng het ook ‘n versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) by die munisipale bestuurder se kantoor ingedien, waarin dokumentasie versoek word om te bevestig of die huurooreenkoms korrek gemagtig is.
Scheurkogel sê dat die DA deur die gekose komitee vrae aan die departement van vervoer voorgelê het om die status van die projek te verduidelik.
Nadat die statutêre tydperk van 30 dae sonder reaksie verstryk het, is die saak na die parlement geëskaleer vir verdere ondersoek. Die DA, in samewerking met die Welkom-besigheidsforum, het met die Matjhabeng-munisipaliteit en die projekontwikkelaar geskakel. “Terwyl ons die projek se potensiaal om werk te skep en plaaslike ekonomiese groei te stimuleer ondersteun, het ons beduidende voorbehoud omtrent die proses wat gevolg word,” sê Dansey.
“Veral nadat daar beweer word dat die ontwikkelaar ‘n huurkontrak met die munisipaliteit onderteken het sonder die raad se goedkeuring.
“Ten spyte van herhaalde versoeke, is daar nie ‘n huurkontrak voorsien nie, en die regte van bestaande huurders blyk heeltemal geïgnoreer te wees,” sê sy.
Scheurkogel en Dansey meen dit moet beklemtoon word dat die projek die breër gemeenskap van Welkom moet dien, nie net ‘n bevoorregte paar of politiek verbonde individue nie.
“Enige poging om hierdie projek as ‘n dekmantel vir die onregmatige toegewing van openbare hulpbronne te gebruik, sal kragtig teengestaan en aan die lig gebring word.
“Ons sal voortgaan om hierdie saak op parlementêre en plaaslike regeringsvlakke na te volg totdat volle deursigtigheid bereik word.”