Ekonomiese onsekerheid en werkloosheid, geestesgesondheid en stres, en fragmentasie van en isolasie in die gemeenskap is, luidens ’n peiling van Solidariteit Helpende Hand, van die hooffaktore wat hulle gevoel van veiligheid en geborgenheid beïnvloed.
Volgens die peiling is hierdie die gevoel van naastenby 70% van die mense wat daaraan deelgeneem het.
Solidariteit Helpende Hand se tema vir 2025 is welstand. “Die organisasie lê sterk klem op die noodsaaklikheid van geborgenheid – ’n gevoel van veiligheid, aanvaarding en emosionele ondersteuning,” sê Lize van Zyl, maatskaplike werker en die maatskaplike bestuurder van Solidariteit Helpende Hand.
Die peiling, wat in Februarie op sosiale media gedoen is, toon dat Suid-Afrikaners toenemend onseker voel oor hul plek in gemeenskappe omdat faktore soos werkloosheid, gesinsverbrokkeling en ’n gebrek aan ondersteuning hulle gevoel van geborgenheid verswak.
“Meer as ’n derde van die respondente ervaar ekonomiese onsekerheid en werkloosheid as ’n direkte bedreiging vir hul geborgenheid,” sê sy.
Geestesgesondheid en stres, en fragmentasie van en isolasie in die gemeenskap raak ook ongeveer ’n derde van die respondente en veroorsaak verdere spanning en onstabiliteit.
Hoewel daar ’n sterk behoefte aan ondersteuning in gemeenskappe is, beleef baie mense steeds tye van isolasie. Dit dui op ’n kritieke tekort aan stabiliteit en ondersteuning in gemeenskappe.
Hierdie tendense wys dat geborgenheid nie net ’n persoonlike behoefte is nie, maar ’n sosiale noodsaaklikheid wat stabiliteit en veerkragtigheid bevorder.
Van Zyl beklemtoon die belangrikheid van maatskaplike werkers vir die vestiging van geborgenheid in gemeenskappe.
“Maart is Maatskaplike-werkersmaand. Ons wil spesifiek mense se aandag vestig op die kritieke rol wat hierdie professionele persone speel om geborgenheid te versterk deur emosionele ondersteuning te bied en sosiale aanvaarding te bevorder. Verder wil ons gemeenskappe bewus maak van en inspireer tot ’n aktiewe betrokkenheid by waardegedrewe inisiatiewe wat geborgenheid en samehorigheid ondersteun. So wil ons ’n beweging van hoop, ondersteuning en verbondenheid aanwakker – ’n beweging wat sal help om individue en gemeenskappe sterker, veerkragtiger en meer verbonde te maak,” sê Van Zyl.
Ter erkenning van maatskaplike werkers se bydrae in die samelewing sal Hoopdraer-toekennings in samewerking met Solidariteit se Beroepsnetwerk binnekort aan ligdraers in die beroep en gemeenskap oorhandig word.
Met hierdie inisiatief wil Solidariteit Helpende Hand ’n daadwerklike verskil maak en ’n beweging van hoop, ondersteuning en verbondenheid dryf – ’n tree na ’n sterker, meer geborge samelewing.
Volg gerus die veldtog op Helpende Hand se Facebook-blad (Helpende Hand – Deel van die Solidariteit Beweging), op Instagram en webtuiste helpendehand.co.za vir meer inligting. – Solidariteit Helpende Hand