Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:
Kan iemand my asseblief inlig hoekom die straatligte wat nog werk, 24/7 brand.
Op die hoek van Mareestraat, Riebeeckstad, is die straatlig nou al jare lank buite werking.
Skoolkinders kom elke Vrydag-middag daar bymekaar en daar word drank misbruik; daar gaan beslis onheil aan. Die reuk van dagga hang in die lug en die musiek word kliphard gespeel.
Van die gemors word in die mangat gegooi.
Die sementblad is verwyder en van die leerlinge sit op die mangat en gooi hul lekkergoedpapiere en bottels daarin.
Geen respek vir ons wat smag na rustigheid.
Dis pikdonker op die hoek en dit is ook dan ’n ideale kans vir inbrake.
Ons het ’n groot kragprobleem, maar steeds steur die eerste burger en sy kaders hulle nie daaraan nie.
Die krieketveld in Riebeeckstad se spreiligte wat baie krag trek, brand ook 24/7. Ek het dit aangemeld, maar glo my ek kom nêrens nie.
Die Matjhabeng-munisipaliteit se bestuur is onbetroubaar. Hierdie mense is seker nie opgelei vir die werk wat aan hulle toevertrou is nie.
Dis nou die premier van die Vrystaat se verantwoordelikheid om die Goudveld te besoek en om te kom kyk wat hier aangaan.
In feitlik elke straat is waterlekplekke. Miljarde liters skoon water stroom die strate af.
Asseblief, Meneer die premier van die Vrystaat, gee dringend aandag aan ons klagtes. Dit is immers u verantwoordelikheid om toe te sien dat dienslewering plaasvind.