Die gebrek aan ondersteuning aan Vrystaatse boere deur die provinsiale regering dra by tot die 28 000 werksverliese in die sektor die afgelope jaar.
Hierdie skrikwekkende syfer is vanjaar deur Statistiek Suid-Afrika (SSA) bekend gemaak.
Die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling onderpresteer elke jaar in hul program wat boere moet ondersteun.
Dit beteken dat kommersiële opkomende- en bestaansboere nie die voordele ontvang van fondse wat vir hierdie program toegedeel word nie. Waar fondse wel bestee word, is dit aan kontrakteurs vir ongebruikte infrastruktuur en voertuie betaal, met geen langtermyn voordele vir die landbousektor in die Vrystaat nie.
“Boere word ook deur misdaad geteister wat groot verliese in inkomste veroorsaak. Vrystaat Landbou beweer dat Vrystaatse boere jaarliks tot R3 miljard aan veediefstal verloor. Baie van hierdie misdaad vind op die Lesotho-grens plaas,” sê Roy Jankielsohn, DA-premierskandidaat vir die Vrystaat.
Verder styg kostes van brandstof, kunsmis, voertuie en landboutoerusting wat dit moeilik maak om produksielenings te delg. Beurtkrag het ook ’n groot impak op die sektor wat afhanklik is van konstante kragvoorsiening. Die natuur neem nie beurtkrag in ag nie.
Die swak padinfrastruktuur in die Vrystaat veroorsaak verdere verliese vir die sektor wat afhanklik is van paaie vir die vervoer van landbougoedere en -dienste. Die jaarlikse vernietigende veldbrande wat grootskaalse verliese aan weiding, infrastruktuur en vee veroorsaak kry ook min aandag van die regering.
Beleidsonsekerheid en ras-gebaseerde wetgewing, regulasies en retoriek veroorsaak minder belegging in die sektor.
In die Wes-Kaap waar boere ondersteuning van die provinsiale regering ontvang en die voordele van ’n goeie padinfrastruktuur geniet, is daar die afgelope jaar 35 000 werksgeleenthede deur die landbousektor geskep.