Die Gariepdam op die grens van die Vrystaat en die Oos-Kaap, die grootste dam in Suid-Afrika.
Sakelui van Gariepdam is moedeloos oor die watersituasie hier. FOTO: Verskaf

GARIEPDAM   Terwyl die Vrystaatse LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Ketso Makume, op Donderdag 6 November die toerisme-seisoen by Gariepdam geopen het, sit talle ondernemings en gastehuise hier sonder water.

Dié dorp, reg langs die grootste dam in Suid-Afrika, voer al maande lank ‘n stryd teen waterbeperkings.

Werner Pretorius, DA-wetgewerlid en die party se woordvoerder oor toerisme, het op 13 Oktober ‘n dringende brief aan die LUR vir koöperatiewe samewerking en tradisionele sake, Teboho Mokoena, gestuur om oplossings te vind vir die voortdurende watertekort in die Kopanong-munisipaliteit.

Inwoners van die dorp Gariepdam, langs die grootste dam in Suid-Afrika, sit maande lank sonder behoorlike waterverskaffing. FOTO: Lientjie Mentz

Pretorius sê dié munisipaliteit skuld die waterverskaffer Vaal Central meer as R800 miljoen, en die lewering is na 30% verminder.

“Daar is egter voortdurend en onaangekondig geen water, met veral inwoners in hoogliggende dele wat dikwels geen water het nie.”

Inwoners ervaar al maande lank nie behoorlike waterverskaffing nie. Veral eienaars van Air B&B-akkommodasie en gastehuise sit met die hande in die hare en moet dikwels water aanry.

Die Menseregtekommissie het reeds in sy November 2024-verslag gesê die Kopanong-munisipaliteit minag inwoners se regte tot toegang tot skoon water.

Gariepdam se dorpswembad staan leeg. FOTO: Verskaf

Een inwoner vertel dat hulle ‘n paar maande gelede na Gariepdam getrek en het ‘n huis met ‘n woonstel gekoop met die idee om dit as gaste-akkommodasie te verhuur.

“Die water is nou so treurig dat ons dit glad nie kan uitverhuur nie,” sê sy.

Met die bekendstelling van die departement van toerisme se somerveldtog, word al die toerisme-attraksies van dié mooi dorp luid besing.

Lees ook: Free State launches summer tourism campaign at Gariep Dam

Sakelui sê egter dit help alles niks as daar nie water is vir besoekers nie.

Een gastehuiseienaar sê haar gastehuis was vanjaar al altesaam vyf maande gesluit weens gebrek aan water. Sy sê dit is nou gesluit en sy hoop om Maandag weer oop te maak.

“As ek genoeg water kry.”

Sy sê die watertoevoer is veronderstel om van 14:00 tot 16:00 oop te wees, maar selfs as dit dan loop, loop daar slegs ‘n baie dun straaltjie en neem dit lank om tenks vol te maak.

Sy sê van die gastehuiseienaars het plase en ry boorgatwater aan.

Intussen lê die land se besigste vakansie-seisoen voor die deur en is sakelui moedeloos omdat hulle self moet spook om water te hê om gaste te kan akkommodeer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 11 December 2025
    Vista Edition 11 December 2025

Gift this article