Hy hou van klavier en die uitdagings rondom tempokeuses en verskillende dinamiese vlakke.
Aan die woord is Willem Odendaal, wat sy gr. 2-eksamen aan die Associated Board of the Royal Schools of Music (ABRSM) met lof geslaag het.
Hy het dié eksamen op 9 Julie gespeel.
Willem is die agterkleinseun van Elsje en Willem Odendaal.
Die ABRSM bied jaarliks in meer as 90 lande die geleentheid aan musiekleerlinge om eksamens af te lê.
Willem (16) kom uit ’n musikale familie. Sy oumagrootjie Elsje was ’n bekende kunstenaar en kunsonderwyser in die Goudveld. Sy het vroeër kore afgerig en self klavier gespeel.
Hy het op agtjarige ouderdom met sy musiekloopbaan aan die Goudveld-kunsteakademie begin.
Willem geniet dit om klavier te speel, want dit is vir hom ’n emosionele uitlaatklep. Hy het veral ’n aanvoeling vir die musiek van die romantiese en moderne era.
“Ek is stomgeslaan, en het nie die goeie eksamenuitslae verwag nie.”
Sy volgende doelwit is om sy gr. 6-klaviereksamen in gr. 12 af te lê.
“Ek is baie dankbaar vir die gawe wat ek ontvang het,” sê hy.
Jeanne Turchino is Willem se musiekonderwyser. Hulle het ’n noue band, en hy sê hy het vir haar net die grootste respek.
Willem, ’n leerling aan die Goudveld-Hoërskool, se prestasie plaas hom onder die musiekstudente met van die hoogste punte in Suid-Afrika.
Die ABRSM se missie is om prestasie in musiek te inspireer.
“Hierdie is ’n merkwaardige prestasie. Hy sal genooi word om vir die Global High Scorers’ Concert in te skryf,” sê Bridget Harrison, streekskoördineerder.