Inwoners van Virginia staan gereed om die dorp se glansryke dae te herleef en die gemeenskap weer te laat saamstaan tydens die Virginia-beesfees.
Dié fees, wat op 27 en 28 Oktober by die Voluit Primêre Skool plaasvind, word vanjaar ’n tweede keer aangebied. Die fees word deur die gemeenskapsgroep Ons vir Virginia gereël.
Die fees het ’n groter doel as net pret en vermaak.
“Ons is ’n klein groepie sake-eienaars, gemeenteleiers en ouers met ’n droom om Virginia weer ’n sterk, veilige en finansieel onafhanklike dorp te maak.
“Die fees is ’n stap in die regte rigting om daardie visie te verwesenlik,” sê Cindy Mac Nicol-Kapp.
“Ons is almal jong sakemense hier in Virginia. Ons woon hier, en ons werk hier. Ons wil die slaggate, die rioollekplekke en die verval herstel. Ons wil weer geld in die dorp se infrastruktuur terugploeg en daardeur die veiligheid van die inwoners verbeter.”
Daar is ’n propvol program wat optredes deur Piet Pompies, Ouderdoos, Jan Jan Jan, Zak Steyn, Karoo, Crazy Werrie en Eugene van Tonder insluit. Ander vermaak soos ’n toutrekkompetisie, Mej. en Mnr. Beesfees-kompetisie, kindervermaak en stalletjies kan ook verwag word.
Kaartjies is by die skool en by Heritage on Park beskikbaar en kos R280 per persoon, en kinders jonger as 12 jaar kry gratis toegang.
“ ’n Kaartjie sluit nie net toegang tot die fees in vir die twee dae nie, maar ook ’n heerlike osbraai-ete en ’n verskeidenheid vermaak vir die hele gesin. Sportliefhebbers kan uitsien na ’n reeks aktiwiteite, insluitend rugby- en netbalwedstryde, asook die spesiale Renergen-fietswedren.”
Die rugbywêreldbekerwedstryde sal op groot skerms in die biertent uitgesaai word.
’n Unieke diens by die fees is die beesfeesbus. Teen R30 retoer kan feesgangers van Welkom na die fees in Virginia en terug ry.
Die bus vertrek Saterdag om 14:00 vanaf die Roverssportklub in Welkom, na Virginia.
“So kan feesgangers heerlik eet, drink, rugby kyk en kuier en veilig weer terugkom in Welkom ná die lekker baljaar.”
Skakel 082-450-1442 of 057-212-3205 met navrae.