Fees ’n hupstoot vir dorp

Wat kry jy as jy ’n dominee, ’n prokureur en ’n entrepreneur kruis? Jy kry ’n bul van ’n fees – Virginia se jaarlikse beesfees.


Wat kry jy as jy ’n dominee, ’n prokureur en ’n entrepreneur kruis? Jy kry ’n bul van ’n fees – Virginia se jaarlikse beesfees.

Die fees vind op 29 Oktober by die Voluit Primêre Skool plaas en meer as 2 000 besoekers word verwag.

Ds. Hendrik Conradie, Cindy Oosthuizen en Chantel van den Berg is die span agter die fees.

“Ons gemeenskap gaan gebuk onder die swak ekonomie ná Covid-19 en die baie afleggings hier,” sê Conradie.

“Ons wil graag ons dorp weer in sy glorie sien. Virginia en sy mense is nog altyd geken aan hul vermoëns om sterk te staan in moeilike tye, en hierdie fees is ’n manier hoe Virginia vir die mense wys, sy het nog lank nie gaan lê nie,” sê Oosthuizen, ’n prokureur.

Nie-winsgewende organisasies is betrokke by die fees, soos Huis Maanblom-jeugsorg, bejaardesorg­sentrums, die Virginia-DBV, die Hoërskool Nobilis, die Voluit Primêre Skool, die Hoërskool Hentie Cilliers en verskeie kerke.

Kaartjies kos R250. ’n Spitbraai-ete met bykosse, kerrie-en-rys, beesbredie, potjiekos en uiteenlopende vermaak word gebied.

“As ons sê ons eet bees, dan bedoel ons die hele bees,” sê Van den Berg.

Verskeie kunstenaars sal in die 1 000-man-vermaaklikheidstent optree.

Die Radio Kalahari Orkes, Beeskraal, Karoo, Zak Steyn, Eugene van Tonder en Ian Roberts en sy bekfluitjie sal optree. Doringdraad, ’n bekende fees-komediant, is die seremoniemeester. Feesgangers sal ook in die biertuin, oftewel die Bees Krip kuier.

’n Vervoerdiens soortgelyk aan Uber, genaamd die Cattle Run, sal tussen Welkom en Virginia beskikbaar wees.

“Die fees sou nooit kon plaasvind as dit nie vir die plaaslike besighede en gemeenskap van Virginia was wat hul gewig 100 % agter ons gegooi het nie. Ons nooi die Goudveld om Virginia te ondersteun in hierdie reuse-poging, en om die droom van ’n jaarlikse fees te bewaarheid.

“In ruil vir jou teenwoordigheid gee ons vir jou en jou gesin ’n bul bielie mooviese lekker fees,” sê die organiseerders.

  • Besoek Bees Fees Virginia Osbraai 2022 op Facebook vir meer inligting, of bel Conradie by 082-619-8946 of Oosthuizen by 082-450-1442.

You need to be Logged In to leave a comment.