’n Bekende inwoner van die Goudveld, brig. Victor Lesley Stewart (82) is op 10 Januarie ná lang sieke oorlede.
Daar was ’n groot opkoms vir sy begrafnis in Roodepoort op 18 Januarie.
Byna 20 offisiere en adjudant-offisiere van die legioen van voormalige polisiebeamptes het per bus gereis om die begrafnis by te woon.
Vergesel deur lede van die Wes-Randse legioen is ’n erewag by die ingang van die kerk gevorm, en ’n Skotse doedelsakspeler het die optog tot in die relatief vol kerk gelei.
’n Jare lange vriend kol. Brian Emmenis het die lofrede gelewer.
Hy het vertel van die goeie pa en oupa wat Stewart was.
Emmenis het Stewart se vrou, Lee, geprys oor hoe sy hom altyd bygestaan het. Elkeen wat Stewart geken het, praat met die hoogste lof van hom.
Hy was ’n gerespekteerde en geliefde man, pa, oupa, leier, bevelvoerder, kollega en vriend – gelei deur sy dade en voorbeeld.
’n Toonbeeld van integriteit en inbors.
Sterk en braaf. Só praat sy vriende, familie en oudkollegas van hom.
Hy was ’n godsdienstige man en het sy dag saam met God begin en afgesluit. Stewart was ’n statige en deftige man wat altyd deur ’n ring getrek kon word.
In 1982 is Stewart na majoor bevorder en hy is van Cradock na Welkom verplaas.
Hy het hier gedien as die distrik speur-offisier van die Goudveld, en aan die begin 1990s is hy bevorder tot vol kolonel.
Hy het gedien as distrik kommissaris tot aan die einde van 1994.
In 1994 is hy bevorder na brigadier en is na Durban verplaas waar hy dien as die adjunk-speurhoof van die KwaZulu-Natal streek tot sy aftrede.
Ná sy aftrede het hy as voorsitter gedien van die Bond van Oudpolisie-beamptes Noord Vrystaat (2008 – 2021) waarna hy uitgetree het toe hy die Vrystaat vir Gauteng verruil het om naby sy enigste seun, skoondogter en twee kleinseuns te wees.
Stewart was ’n strategiese denker, het ’n potjie skaak geniet.
Hy het albei kleinseuns skaak geleer.
“Wanneer hy ontspan het, het hy graag Klipwerf boereorkes geluister en ’n ‘drink gevat’ soos hy sou sê.”
Stewart was baie lief vir sy twee kleinseuns, Jude en Noah, en hy was ook ’n groot diereliefhebber.
Hy het ’n sagte plek vir sy hond, De la Rey, en sy seuns se worshonde, Jack en Jill gehad.
“Hy het ’n groot, oop hart en hand gehad, altyd almal met respek behandel ongeag rang, ras of klas en het graagte vir ander en minderbevoorregtes gegee.
“Op sy sterfbed het die petroljoggie waar hy die laaste twee jaar sy kar volgemaak het, hom ook kom besoek en laaste eer betoon,” sê sy seun, Lesley.
Hy word oorleef deur sy vrou, Lee (van 58 jaar), sy seun, Lesley, skoondogter, Chantál, twee kleinseuns Jude en Noah en sy suster, Alida.