Kontrakteurs wat sê hulle is in die ANC se faksiegevegte vasgevang en van wie sommige glo agt maande laas vir hul dienste betaal is, het Maandagoggend (25/07) die hekke van die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit in Welkom gesluit.
Niemand is in die geboue toegelaat nie.
Volgens Mpho Rabodila, een van dié kontrakteurs, is sy en ’n klomp ander sakelui se kontrakte opgeskort.
Rabodila sê hulle is deur ander kontrakteurs vervang “omdat die burgemeester sê hulle is deel van die Speelman-faksie”.
Thanduxolo Khalipha is sedert verlede jaar uitvoerende burgemeester van Matjhabeng nadat Nkosinjani Speelman, die omstrede voormalige burgemeester, te midde van wydverspreide betogings teen hom bedank het.
Vista het voorheen berig dat hy by beweerde bedrog van R200 miljoen betrek word.
Rabodila sê die munisipaliteit skuld hom R1,2 miljoen vir werk wat hy tydens die staat van inperking gedoen het om geboue te ontsmet, asook die skoonmaak van verstopte rioolpype in Welkom.
Verskeie kontrakteurs het Maandag buite die munisipale kantore aan Vista gesê hulle is agt maande laas betaal en is in ’n groot geldelike verknorsing.
“Ons werkers het ons na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) geneem, ons verskaffers dagvaar ons en ons kinders het nie kos nie,” sê Rabodila.
Volgens Isaacs Mlengane, wat Maandagoggend toegang by die hek beheer het, word 40 kontrakteurs geraak, wat elk tussen 25 en 50 mense in diens het.
“Gaan kyk in Kortstraat, drie maatskappye het toegemaak,” het ’n man gesê, wat nie sy naam bekend wou maak nie.
Dié kontrakteurs sê hulle het die hekke op regsadvies gesluit maar indien dit nie werk nie, sal hulle verdere stappe doen.
Hulle eis onmiddellike betaling.
Die kontrakteurs beveilig munisipale eiendom en elektriese infrastruktuur, en doen onder meer uitgrawings en rioolwerke omdat Matjhabeng nie meer self dié werk doen nie.
Igor Scheurkogel, DA-koukusleier in die Matjhabeng-munisipaliteit, het by navraag aan Vista gesê sover sy kennis strek, hou die optrede Maandag met die nie-betaling van kontrakteurs verband.
“Ons verkose munisipale bestuurder, Zingisa Tindleni, hou inligting styf teen die bors en antwoord nie altyd ons opposisieraadslede se vrae hieroor nie.”
Scheurkogel sê die munisipaliteit is in ’n haglike en chaotiese toestand.
“Van die rioolpompe wat ten duurste gehuur word, is die naweek onttrek, glo omdat die kontrakteurs nie betaal is nie.
“Dit geld ook die rioolpompe in Odendaalsrus wat nie nou beskikbaar is nie.
“Die rioolpompe word teen honderdduisende rand per maand gehuur, het ons gehoor.”
Tindleni het by navraag laat weet sy is in ’n vergadering en kan nie namens die munisipaliteit antwoorde verskaf nie.
Vista verneem dat lede van die Openbare Orde Polisiëring ontbied is en ná onsuksesvolle onderhandelinge met die sakemanne, wat hulle binne die munisipale terrein verset het, is skokgranate, rubberkoeëls en traangas gebruik om die hekke oop te kry.
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die hekke en kantoordeure is hierna oopgemaak, en die kontrakteurs is van die terrein verwyder.
“ ’n Saak van Openbare Geweld is vir verdere ondersoek geregistreer.
“Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.”