Die Eunice High School se Eunice Vitae Cantamus-koor het twee pryse gewen op die ATKV-Applous-kompetisie waarvan die finale ronde Saterdag 2 Augustus in Pretoria aangebied is.
ATKV-Applous is die oudste skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika. Die finaal is vanjaar vir die 48ste keer aangebied en het vanaf 30 Julie tot 2 Augustus 2025 in die ZK Matthews-saal by Unisa in Pretoria plaasgevind.
Gedurende Mei het ATKV-Applous se streeksfeeste plaasgevind, en het die koorbeoordelaars na ’n fenomenale 292 kore geluister, wat meer as 20 000 hoër- en laerskoolleerlinge van oor Suid-Afrika en Namibië heen verteenwoordig.

Verskillende afdelings het sedert 30 Julie meegeding met die Hoërskool-prestige-afdelings wat Saterdag plaasgevind het. Benewens die kategoriewenners in elk van hierdie kategorieë, is sertifikate ook oorhandig vir die beste uitvoering van ’n voorgeskrewe lied, die beste uitvoering van ’n Afrikaanse komposisie en die beste uitvoering van ’n Afrika-lied.
Eunice het die prys gewen vir die beste uitvoering van ‘n voorgeskrewe werk, wat die Loflied van Debora deur Niel van der Watt, was, en ook die prys vir die beste uitvoering van ‘n Afrikaanse lied – nogal merkwaardig van ‘n Engels-medium-skool. Die Afrikaanse lied wat die koor gesing het, was Anton Esterhuyse se verwerking “Op my ou Ramkietjie” in ‘n lied “Ramkieriasies”.
Algeheel het Eunice se koor tweede gekom in die Hoërskool Meisieskoor-afdeling met ‘n cum laude uitslag van 93,53%

Die Hoërskool Menlopark was die wenners van die Hoërskool-prestige-afdeling vir gemengde skole; Hoërskool Stellenberg was die meisies-wenners van die Hoërskool-prestige afdeling en Afrikaans Hoër Seunsskool was die seunswenners in die Hoërskool-prestige afdeling.
Hoërskool Ferrum was die wenner in die afdeling vir beste uitvoering van ‘n Afrika-liedjie.
Volgens Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, is ’n skoolkoorkompetisie soos ATKV-Applous van sleutelbelang. Sy beklemtoon dat hierdie vooraanstaande kompetisie “hoë standaarde in klankuitvoering, musikaliteit en interpretasie inspireer. Kore word aangemoedig om hul tegniek te verfyn, met repertoire te eksperimenteer en saam te werk om gepoleerde optredes te lewer”.
Daarbenewens, sê Quinn, bevorder ’n kompetisie soos ATKV-Applous lewensvaardighede soos dissipline, deursettingsvermoë en spanwerk. Die koorlede leer verantwoordelikheid en veerkragtigheid. By ATKV-Applous word die kore ook aangemoedig om musiek in inheemse tale, tradisionele liedere én kontemporêre werke te sing. Sodoende word kulturele erfenis bewaar en gevier terwyl diversiteit en inklusiwiteit bevorder word.



You must be logged in to post a comment.