Elke uitdaging oorkom

’n Oudleerling van Welkom-Gimnasium is nie net as die Vrystaat se beste presteerder in rekeningkunde aangewys nie, maar is ook een van die provinsie se tien topmatrikulante.


Jana Briel

’n Oudleerling van Welkom-Gimnasium is nie net as die Vrystaat se beste presteerder in rekeningkunde aangewys nie, maar is ook een van die provinsie se tien topmatrikulante.

Jana Briel het in verlede jaar se nasionale se­nior­sertifikaateksamen ’n onderskeiding in Afrikaans huistaal (89%), Engels eerste addisionele taal (94%), wiskunde (99%), lewensoriëntering (97%), rekeningkunde (99%), lewenswetenskap (97%) en fisiese wetenskap (99%) behaal.

Sy reken die uitdagings wat sy in haar matriekjaar trotseer het, het haar goed voorberei vir die volgende fase van haar lewe.

Sy beplan om vanjaar haar studie in aktuariële wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch te begin.

“Ek dink al die laat middae en ekstra klasse oor naweke om die sillabus voor September klaar te maak was vir my die grootste uitdaging,” sê Jana.

“Om tot 16:00 by die skool te sit, en dan nog sport en huiswerk in te pas, het soms nogal uitdagend geraak.”

Boonop moes sy tyd maak om haar Acro Dance Teachers Association-eksamen te doen. Hiervoor het sy 95% behaal.

Die Covid-19-pandemie het sake verder bemoeilik, sê sy.

“Aangesien ons so ’n verkorte tydlyn in vergelyking met ’n normale jaar gehad het, was alles ingedruk. Daardie ekstra druk was ’n las op almal betrokke.”

Tog beskou sy haarself as gelukkig, omdat sy geen liefdes aan Covid-19 moes afstaan nie.

Jana sê dit was teleurstellend om uit te mis op haar skool se tradisies, soos die sokkie vir gr. 8 en gr. 12-leerlinge, die derby tussen Welkom-Gimnasium en die Goudveld-Hoërskool, die interhuisgala en die matriek-pretdraf.

“Weens Covid-19 het ons as matrieks niks ervaar wat sosiale geleenthede betref nie. Selfs ons matriekafskeid was beperk,” sê sy.

“Ek dink dit het die uitbranding wat baie matrieks beleef het, verhoog. Matriek is ’n moeilike jaar. Dit behels ’n groot mate van druk en jy moet hard werk, maar jy moet ook balans handhaaf.

“Jy moet jouself laat rus en pret hê en daardie ‘laastes’ ervaar, want dit gaan werklik in ’n oomblik verby.”

Jana se ouers, dr. Hennie Briel en dr. Dorita Bester, is haar grootste ondersteuners.

Haar pa vertel hoe sy twee jaar gelede begin het om ekstra wiskundeklasse aan te bied.

“Sodoende wou sy ’n geldjie maak om op ’n akademiese toer oorsee te gaan. Weens die pandemie het dit egter nie gebeur nie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.