Eksamenvoorbereiding: hoe om dit te doen en die stres te hanteer

Dr Cecilia Klopper van CURAparent, ’n onderwyskundige en medewerker van Afrikaans.com en ontwikkelaar van Afrikaans.com se matriekklaskamer, gee nuttige riglyne en wenke om eksamenvoorbereiding en gepaardgaande stres ore aan te sit.


Dr Cecilia Klopper van CURAparent, ’n onderwyskundige en medewerker van Afrikaans.com en ontwikkelaar van Afrikaans.com se matriekklaskamer, gee nuttige riglyne en wenke om eksamenvoorbereiding en gepaardgaande stres ore aan te sit.

Klopper sê dat ’n rustige leerklimaat by die huis nou die belangrikste is en kinders moet ’n stil plek hê waar hulle ongestoord kan studeer. Sy beveel ook aan dat ouers riglyne en hulpbronne vir alle vakke aankoop, want dit sal hulle insig gee in die kurrikulum. Sy beveel die drie-in-een vraag-en-antwoord-reeks aan.

Nog riglyne:

  • Laai vir hulle vraestelle met memoranda van die laaste drie jaar af in al hul vakke. Dit gee hulle ’n geweldige voorsprong.
  • Hou maar ’n ogie dat hulle genoeg slaap en gesonde kos uit al vyf die voedselgroepe inkry.
  • Dit is ook nodig dat leerlinge genoeg moet ontspan en oefen.
  • Gee vitamienaanvullings as jy sien jou kind het min energie.
  • Identifiseer angs en depressie betyds en doen iets daaromtrent. Gewone asemhalingsoefeninge help ook vir die angstige oomblikke – vyf asemteue deur die neus wat vir vyf tellings ingehou word en dan by die mond uitgeblaas word. Herhaal ’n paar keer totdat jy kalmeer voel.
  • Indien daar iets is wat jou kind pla, soos ’n probleem by die huis of ’n verhoudingsprobleem, ondersteun hom deur met hom daaroor te gesels. Daarna moet hy dit op ’n papier skryf en dit in ’n laai “parkeer” tot ná die vraestel. Dan kan hy dit weer hanteer.
  • Jou kind kan nie sy beste lewer as sy gemoedstoestand nie reg is nie. Ernstiger angs en depressie moet natuurlik op ’n deurlopende basis behandel word sodat dit nie tydens die ekstra spanning van die eksamen die kind se konsentrasievermoë benadeel nie.
  • Indien leerlinge enigsins probleme ondervind met skoolwerk, reël onmiddellik ekstra akademiese hulp.

Wanneer moet voorbereiding vir die eindeksamen begin?

  • As jy die nuwe jaar in Januarie aanpak, moet jy vooruit beplan en op dag een jou werk begin organiseer en daagliks in klein porsies bemeester.
  • Die jaar gaan ongelooflik vinnig verby, aangesien jy eintlik teen 1 Augustus al jou werk moet ken.
  • Moet nie uitstel nie.
  • Sorg dat jou ouers weet waar jy staan met jou kennis. Stel hulle dadelik in kennis as jy ekstra hulp benodig veral in vakke soos Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde.

Beplanning is noodsaaklik

Graad 12-leerlinge moet hul akademiese voorbereiding goed beplan. Begin sommer dadelik en druk of koop ’n jaarbeplanner wat in dae en maande ingedeel is. Plak dit iewers op sodat jy met een oogopslag die hele maand of kwartaal se aktiwiteite kan sien. Skryf nou alle belangrike datums daarop. Dit sluit in toetse, eksamens, sperdatums, toere, partytjies, kerk asook buitemuurse oefeninge, wedstryde en kampe.

Beplan nou jou studierooster om jou belangrike datums sodat jy genoeg tyd het om al jou werk te leer.

Organiseer jou los blaaie in afsonderlike lêers – een vir elke vak.

Hou alle notas en opsommings bymekaar.

Laai vraestelle van die laaste drie jaar af, beantwoord dit en vergelyk jou antwoorde met die memorandums op dieselfde webtuistes. Dit is gratis.

Hier is nuttige webtuistes:

) afrikaans.com;

) education.gov.za; en

) sapapers.co.za.

Jy kan ook bloot ’n spesifieke vraestel en memorandum op die internet soek, bv. ’n Gr. 12, Afrikaans-huistaal-vraestel vir 1 November 2022. Daar behoort verskeie opsies van verskaffers te wees. Dit is gratis aflaaibaar.

Beantwoord die vraestelle en vergelyk die memorandums met jou antwoorde. Kyk wat het jy verkeerd gedoen en leer so uit jou foute.

Dit is baie belangrik dat jy sien hoe die vrae gestel word en wat die eksaminator as antwoord verwag.

Kyk ook na die puntetellings. Daar behoort twee tot drie stelle vraestelle vir elke jaar te wees, met Mei en Junie wat die aanvullingseksamens is, asook dan die rekord- en eindeksamenvraestelle in November.

Spesifieke voorbereiding:

Afrikaans, vraestel een tot drie

Beantwoord ou vraestelle, hersien net gedeeltes wat jy per dag kan baasraak in 15 tot 30 minute.

Vraestel een : Taal-, leesbegrip- en opsommingsvaardighede

Daar is so baie wat ’n mens deurlopend kan doen om jou taalkennis te verbeter. As jy graag ’n onderskeiding wil kry, beveel ek aan dat jy op ’n weeklikse basis regdeur die jaar aan die moeilike aspekte van taalstudie aandag gee.

Baie belangrik: Koop so nou en dan ’n goeie Afrikaanse tydskrif en ’n koerant, en lees dit.

Hoe meer jy vertroud raak met die lees van koerante en tydskrifte (aanlyn of gedrukte kopieë) hoe makliker gaan die interpretasie van vraestel een vir jou word want die vraestelle bestaan letterlik uit advertensies, artikels, berigte, onderhoude, weerkaarte, spotprente, strokiesprente en infografiese materiaal, soos bv. grafieke.

Hersien al die taalbeleide soos die reëls vir ontkenning, lydende vorm, indirekte rede en dies meer. Let ook op jou woordorde; so baie van ons plaas die bywoord of bywoordelike bepaling in die verkeerde posisie in die sin.

Vraestel twee: Letterkunde

Eerstens, jou drama, kortverhaal of roman. Goeie raad is om jou voorgeskrewe letterkundeboeke dadelik te lees en op te som. Later is dit ’n geval van hoe later hoe kwater, en soms bly die lees van die roman of drama agterweë. Dan gooi jy sommer ’n klomp punte weg in die eksamen.

Begin jou drama opsom sodra jy dit die eerste dag in jou hand het. Gebruik die volgende hoofde vir jou opsomming:

  • Karakters, intrige, ruimte (milieu of omgewing), tema, boodskap, gebeure, progressie.
  • Volgorde van gebeure, konflik (innerlik en uiterlik), toon en stemming of atmosfeer.
  • Bou van die drama – eksposisie, motoriese element, ontwikkeling, krisis, klimaks of hoogtepunt, afwikkeling, afloop of denouement en die slot.
  • Maak seker dat jy weet waar elke aspek in die drama voorkom.
  • Leer die vrae en antwoorde wat jy deur die jaar gedoen het.
  • Maak seker dat jy weet wat die skryf van ’n literêre opstel behels.

Gedigte:

  • Ken en verstaan elke versreël van al jou gedigte baie goed.
  • Ken die definisies en voorbeelde van alle digterlike aspekte, klankverskynsels, beeldspraak en retoriese middele sodat jy dit in die gedigte kan herken.
  • Leer die vrae en antwoorde soos deur die jaar gedoen baie goed.

Vraestel drie: Stelwerk

Hersien die Afrikaans Huistaal Departementele Hersieningsgids. Die afdeling oor vraestel drie is baie goed uiteengesit.

Afdeling A: Opstelle

Maak seker dat jy die onderwerp reg kan interpreteer om die regte soort opstel te skryf, hetsy ’n verhalende, beskrywende, argumenterende of bespiegelende opstel.

Gee aandag aan die struktuur van jou opstel. In die treffende inleidende paragraaf moet jy sê waaroor jy gaan skryf, in die liggaam skryf jy dan ’n paar paragrawe oor verskeie punte en in die slot skakel jy dan weer met jou inleiding en titel.

Afdeling B: Korter en langer transaksionele skryfstukke

Hier is struktuur ook baie belangrik:

  • Die paragraaf;
  • vriendskaplike en formele briewe (inleiding, liggaam en slot);
  • advertensie;
  • boodskap;
  • dialoog en onderhoud;
  • e-pos;
  • uitnodiging;
  • gelukwensing;
  • huldeblyk;
  • resensie;
  • koerantberig;
  • agenda en notule van ’n vergadering;
  • toespraak;
  • informele of formele verslag; en
  • tydskrif- of koerantartikel
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.