Die geheim lê in Kol 1: 24 – 29: “Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.”

Ons deel dalk die seer en die kommer van elke dag van geliefdes, van mense rondom my, maar ook in my eie lewe. Om dit te hanteer moet ons vashou aan die Woord van God, Sy beloftes en Sy trou.
Al voel dit vir my asof die Here afwesig is, God se Woord bevestig Sy omgee en trou, Jes 59:1 “My arm is nie te kort om te help en My oor is nie te doof om te hoor nie.” Ons kan maklik die afleiding maak dat daar ‘n verband is tussen gunstige omstandighede en die bestaan van die Here. Wanneer alles goed gaan kan ons reken dat God by ons betrokke is, maar wanneer dit sleg gaan, is God ver van ons of Hy hoor nie ons gebede nie. Vir ons wat die Here dien, wat gelowige sondaars is gee dit die vreug-de en nie die vrees dat die God van Hemel ook die God van die aarde is. Hy is naby ons, by ons, in ons.
LEES OOK: Christus speel die rol van pasaangeër
Die bewys is die waarheid van Christus, die Seun van God, self God, Immanuel, God met ons. Met Sy geboorte het die engele dit bevestig: “Vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het” Christus self het dit bevestig in Matteus 28:20 “En onthou…Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
God se nabyheid laat ons geborge voel, ek behoort. En omdat ek behoort moet ek so leef dat Jesus in my uitreik na ander want dit maak my sterk in my geloof.
Spaanse spreekwoord, “Die wat nie vorentoe kyk nie, bly agter” Omdat God altyd by ons is, is ons nie vasgevang in ‘n hooplose einde nie maar ons is vrygemaak om eindelose hoop te hê. Lewensvreugde is vasgeanker in die geloofswete, “God is vir ewig naby my”. Ons vind ons lewensvreugde in die Here wat naby is. Mag elkeen in hierdie tyd van die jaar en dalk in jou lewe die lewensvreugde ervaar wat Christus vir jou bied. – Ds Philip Mc Laren – NG Bedelia



You must be logged in to post a comment.