Eiers en pluimveeprodukte is veilig vir gebruik tydens die voëlgriep-uitbreek

Die Suid-Afrikaanse Pluimveebedryf word nou deur die hoogs patogeniese H5N1 en H7N6 voëlgriep (HPAI) getref.


Die Suid-Afrikaanse Pluimveebedryf word nou deur die hoogs patogeniese H5N1 en H7N6 voëlgriep (HPAI) getref.

Provinsies wat deur H5N1 geraak word, is Wes-Kaap en KwaZulu-Natal.

Vrystaat, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes is deur die H7N6-stam getref.

“Alle besmette plase is dadelik onder kwarantyn geplaas en geen lewende hoenders en eiers mag van die plaas verwyder word nie,” sê dr. Abongile Balarane, Hoofbestuurder: Eierorganisasie, Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging.

Hy sê hoenders wat met HPAI besmet is, word redelik vinnig siek en vrek. “Oor die algemeen sluit die eerste tekens van siek diere ’n afname in produksie in, wat beteken dat siek hoenders baie min (indien enige) eiers sal lê.

Mites en feite oor voëlgriep:

Mite: Vermy die eet van eiers tydens die voëlgriep-uitbraak

Feit: Die voëlgriep-uitbreek skep verstaanbaar kommer by verbruikers oor die veiligheid van die eet van eiers in hierdie tyd. Suid-Afrikaners kan gerus wees dat die eet van behoorlik gekookte eiers (en hoender ook) nie ’n risiko inhou om mense met die voëlgriep te besmet nie. Dit is omdat hitte hierdie virus effektief vernietig. Daar is geen gevalle aangemeld van hierdie virus vanaf hoendervleis of eiers na mense nie.

Natuurlik kan die eet van rou eiers jou in gevaar stel vir voedseloordraagbare siektes, dit is hoekom dit belangrik is om altyd jou eiers behoorlik gaar te maak voordat jy eet. Kook kan selfs die opname van sommige voedingstowwe in die eier verbeter, soos proteïen, wat belangrik is vir immuniteit en spierbou.

Mite: Die eiers op ons supermark- en kruideniersrakke is nie veilig om te eet nie.

Feit: Verbruikers kan gerus wees dat enige eiers en pluimvee wat hulle by hul plaaslike kruidenierswinkels kan kry, veilig is om te eet. Daar is baie streng riglyne vir veiligheidsmaatreëls in ’n uitbreking soos hierdie, maar die eiers op die winkelrakke is veilig om te eet. Trouens, die vermyding van eiers kan meer skade as goed vir ons gesondheid doen, aangesien eiers ’n koste-effektiewe en voedsame kos vir enige tyd van die dag is.

Balarane sê die waarheid is dat eiers groot voedings- voordele vir ons dieet inhou en hierdie aansprake om die eet van eiers te vermy, kan meer skade as goed vir ons gesondheid inhou.

“Eiers verskaf 13 belangrike voedingstowwe en is volgepak met proteïene, en gesonde vette. Dit maak eiers ’n goeie keuse vir alle ouderdomme. “En in moeilike ekonomiese tye bly eiers oor die algemeen ’n begrotingsvriendelike proteïenkeuse vir Suid-Afrikaners,” sê hy.

Tradisioneel het eiers ’n regmatige plek op die ontbyttafel, maar eiers kan ’n gerieflike, koste-effektiewe en voedsame kos vir enige tyd van die dag bied. Dink aan gekookte eiers op roosterbrood of beskuitjies as ’n peuselhappie, of ’n vinnige en maklike omelet tydens middagete.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.