Twee bekendes in die Goudveld, veral onder die inwoners van Riebeeckstad, Johan en Hannetjie Fouché het hul goue bruilof op 7 Junie gevier.
Die egpaar het hulle 46 jaar gelede in die Goudveld gevestig, waar hulle vandag steeds staatmakers onder die inwoners van Riebeeckstad is.
“Ons het in 1981 na Riebeeckstad verhuis van Kroonstad af, waar ons net een jaar gewoon het,” sê Fouché.
Die egpaar het in 1975 in Krugersdorp ontmoet, waar hulle ook altwee grootgeword het.
“Sy, die Monnas meisie, (Monument Hoër) en ek, ‘n leerling aan Krugersdorp High.
“Die treinrit na Johannesburg was die katalisator waar als vir ons begin het.
“Hannetjie op pad na haar werksplek by Eskom – en ek na Wits Universiteit,” sê Fouché oor die ontmoeting met sy vrou 50 jaar gelede.
Hulle is op 7 Junie 1975 in die Hervormde kerk in Krugersdorp getroud – ‘n wintertroue, maar met vuurwarm harte.
Uit die huwelik is drie dogters en een seun gebore.
“Ons kinders is in die daaropvolgende paar jare gebore. My dogter Tertia in Krugersdorp, Paul my seun in Roodepoort en my tweeling Ilse en Maryke in Riebeeckstad,” sê Johan.
Hulle kleinkinders is almal seuns – Tiaan die oudste is 25 jaar oud en Stian, die jongste, is sewe jaar oud.
“My oudste drie kleinseuns is Tiaan, Ruben en Francois, almal De Wets.
“Die jonges is Johan, Stian en Leonard Willemse en GerhardFouché,” sê die trotse oupa.
Hy sê hy en Hannetjie is albei nog bedrywig in die gasvryheidsbedryf en besit vier gastehuise.
“Ons is steeds lief vir mekaar ná 50 jaar en vele sakke sout.”

You must be logged in to post a comment.