Die Goudveld se goue rolbal-egpaar staan vas in hul posisies op die setperk.
Die Robertson-egpaar het op die Professional Bowls Association (PBA) se Vrystaat-parespel-kampioenskapsbyeenkoms, van 30 November tot 1 Desember, teen 48 pare by die Bloemfontein-rolbalklub gerol.
Hulle het na die eindronde gevorder en is na die wêreldrolbalkwalifiseerder genooi wat van 20 tot 23 Maart 2025 in Durbanville gespeel word.
Hulle neem die afgelope sewe jaar saam in gemengde parespel deel en was onder die top agt by Rolbal SA in die Gauteng ope.
In 2024 het Robbie ’n bronsmedalje in die nasionale manspare verower. Hy was 546ste van 1 650 op die wêreldenkelspelranglys.
Bettie speel in die top 16 nasionale vroue-ope in 2024 en sy is bekend onder die Proteaspelers vir haar liefde vir rolbal. In 2024 het sy die vrouemeesters-NFS-titel gewen.
Robbie het tien jaar gelede die perke betree, en Bettie het sewe jaar gelede besluit om nie meer haar man vanaf die kantlyn aan te moedig nie, maar liewer saam die balle te laat rol.
In 2022 en 2023 is Robbie as die NFS-enkelspelkampioen aangewys, en in 2021 het hy en Bettie deurgedring na die kwarteindronde van die Gauteng- gemengde parespel.
In 2023 was hy in die top 16 van die nasionale enkelspel.
Op Goudveld-vlak het die egpaar vyf keer die gemengde parespel gewen (vier keer agtereenvolgens), en Robbie twee keer die Goudveld- ope enkelspeltitel.
Robbie het ook ’n silwermedalje in die Goudveld- ope enkelspel gewen en twee keer die ope- mansparespel gewen.
Hy het al twee keer die senior enkelspel op Goudveld-vlak gewen.
Robbie is passievol oor rolbal en moedig veral die jeug aan om hulle by die Welkom-klub aan te sluit.
“Rolbal is nie net vir oumense nie, dit is ’n sportsoort vir die hele gesin. My hart brand vir rolbal, en ek wil jong mense afrig en sien hoe mense by ons aansluit om deel te wees van die rolbal-gesin,” sê hy.
Die oefentye by die Welkom-klub is Dinsdae en Donderdae om 16:00.
“Ons het sosiale ligas, en mense kan ná werk by ons aansluit”.
“Ons het hier by Welkom-klub nog ’n aktiewe klub en ek het al twee of drie jong Proteaspelers gelewer,” sê hy.
Belangstellendes kan Robbie by 074-760-5774 bel.