Egpaar sê totsiens

Mynderd en Alida Bester van Bester-ooogkundiges, Welkom se tweede oudste oogkundige praktyk, verlaat die Goudveld ná 37 jaar.

Mynderd en Alida BesterFoto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Mynderd en Alida Bester van Bester-ooogkundiges, Welkom se tweede oudste oogkundige praktyk, verlaat die Goudveld ná 37 jaar.

“Ons groet die Goudveld en omliggende dorpe. Ons reken toe mos, ons ís nog jonk, en uit die bloute ontvang ek ’n pensioenariskaart,” sê Alida.

“Covid-19 het die laaste deel van ons marathon versnel, en einde Februarie 2021 lê ons die leisels neer toe Ilse Swanepoel ons praktyk oorkoop en dit, met Henry Bester aan die stuur, as Golden Vision begin bedryf.

“Nou, ’n jaar en ’n half later, het ons ons vriende in Welkom en Riebeeckstad gegroet en na ons nuwe tuiste in George verhuis.”

Met die opening van die Liberty-sentrum in 1985 het Mynderd en Alida se storie begin.

“Eers was dit Liberty-sentrum no. 6; toe E4, buite langs die voëlhokke; en eindelik die laaste jare Staatsweg 349,” sê Alida met heimwee.

Die Bester-egpaar wil al hul ondersteuners hartlik vir hul jarelange getrouheid bedank.

“Ons het met tyd eintlik soos vriende geword en ek moes my konsultasie gleuf verleng om al die gesels in te kry,” skerts Alida.

Ons is veral dankbaar teenoor ons personeel oor al die jare.

“Die lys is baie lank, en almal was baie spesiaal in ons lewe en in die praktyk.

“Welkom en Riebeeckstad was ons huis en haard.

“Hier het ons as ’n jeugdige egpaar aangekom en die lewe en ons beroep met mening aangepak.

“Ons enigste lam, Marco, het ons hier grootgemaak. Hy is ’n meganiese ingenieur en werk in die VSA.

“Ons lewenslange vriendekring het ons hier opgebou.

“Ons is dankbaar vir alles en ’n geseënde lewe in die Vrystaat. Nou het die tyd aangebreek vir ’n nuwe fase in ons lewensverhaal.

“Mooi loop almal.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.