Die DWS in die Vrystaat het saam met ander belanghebbendes die Sandrivier skoongemaak. Foto: DWS


In sy pogings om skoon en gesonde riviere te verseker, het die Departement van Water en Sanitasie (DWS) in die Vrystaat ’n projek om riviere skoon te maak in Matjhabeng begin deur die Sandrivier skoon te maak.

Hierdie is in ooreenstemming met die departement se jaarlikse Clear Rivers-veldtog.

Die skoonmaak van die Sandrivier was ’n gesamentlike poging tussen die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit, Vaal Sentrale Waterraad (voorheen Bloemwater), die Departement van Ekonomiese, Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake in die Vrystaat en Coca-Cola Beverages Suid-Afrika.

Die Clear Rivers-veldtog is daarop gemik om gemeenskappe aan te moedig om waterbronne, riviere en strome naby hul woongebiede skoon en instand te hou.

Die Sandrivier is geïdentifiseer as die gebied wat skoongemaak moet word vir dié veldtog. Ananias Mamabolo het die DWS tydens dié veldtog verteenwoordig. Hy het rommelstrooiing, sortering vir herwinning van afval asook die behoorlike gebruik van asblikke uitgelig as sake waaraan aandag gegee moet word.

“Die veldtog gaan nie net oor skoonmaak nie, maar ook om die omgewing op te pas en te verbeter. Wanneer mense naby riviere rommel strooi moet die munisipaliteit of owerhede meer geld aan chemikalieë bestee om die water wat dieselfde gemeenskap moet drink, skoon te maak,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.