Sabotasie, waterlekplekke en hoë waterverbruik lei daartoe dat sommige inwoners van Welkom nou reeds ’n vierde week sonder water is.
Inwoners van Riebeeckstad het Maandag (14/02) saam met Igor Scheurkogel, die DA se koukus-leier in die Matjhabeng-munisipaliteit, buite Thanduxolo Khalipha, die burgemeester, se kantoor gaan sit.
Khalipha het met die omgekrapte groep vergader en gesê hy het gereël dat die weermag watertenks uit Bloemfontein stuur om met die situasie te help.
Twee watertenks van die weermag het Maandagmiddag in Riebeeckstad aangekom en sal water by Sedibeng se aanleg buite Virginia gaan tap en na Riebeeckstad aanry.
Dit kom nadat die gebied, en nog dorpe in Noordwes, bykans ’n week lank nie water gehad het nie omdat weerlig ’n elektriese motor by die Balkfontein-suiweringsaanleg beskadig het.
Inwoners van dele van Riebeeckstad het trouens reeds van 19 Januarie af sporadies nie water nie weens ’n tekort aan chemikalieë en Sedibeng Water wat net ’n beperkte hoeveelheid water kon suiwer.
Riebeeckstad, wat hoër as ander dele van Welkom geleë is, se reservoir kon nie vol gepomp word nie, en groot dele van die gebied se watertoevoer is vir drie weke glad nie herstel nie.
Donderdag is die watertoevoer na die meeste dorpe herstel nadat die elektriese motor by die Balkfontein-aanleg vervang is, maar Saterdag het Kgojane Matutle, munisipale woordvoerder, gesê sabotasie dra by tot die probleme in Riebeeckstad.
Volgens Matutle het werkers van Sedibeng Water Saterdag gaan ondersoek instel na waarom daar steeds nie genoeg water in Riebeeckstad se reservoir invloei nie.
Die werkers beweer kleppe wat water na die reservoir laat vloei, is toegedraai en dat daar vermoed word dat dit sabotasie is.
Sedibeng Water onderbreek in die aand die watertoevoer na Odendaalsrus, Kutlwanong en Thabong in ’n poging om Riebeeckstad se reservoir vol te kry.
Watervlakke in die meeste reservoirs het teen Maandag gestyg, maar inwoners sê daar is oral lekplekke wat tot die probleem bydra.

