Die Riebeeckstad-watertoring, wat vroeër jare ’n baken van hoop was, wek nou gevoelens van frustrasie en woede by inwoners van die woonbuurt. Foto: Marie van Rooyen, Wyk 23-raadslid


Die hoofwaterpomp wat gebruik word om Matjhabeng van water te voorsien, is nie ten volle werkend nie, en die kleiner pompe wat in gebruik is, is nie voldoende nie. Op die beste bereik die reservoirvlakke skaars 23%, en dit daal dikwels tot tussen 0% en 3%.Foto: Marti Will
  •  Inwoners in Riebeeckstad wat reeds 20 dae sonder water
  •  Daar is tot voorstelle om ’n klas-aksie teen die munisipaliteit te begin
  •  Gemoedere loop hoog omdat niemand werklik kan verduidelik waar die probleem is nie
  •  Die woonbuurt, met sy meer as 1 000 huishoudings, se betalingskoers van 83% 

_________________________________________________________________________________________________________________________________

Inwoners in Riebeeckstad wat reeds 20 dae sonder water is, se emosies wissel van woedend tot moedeloos.

Sprake van optogte na die munisipale kantoor; die sluiting van die pad tussen Riebeeckstad en Welkom; en om alle geld vir munisipale dienslewering te weerhou, of net ’n basiese bedrag te betaal, word nou op alle groepe in die woonbuurt gedeel.

Daar is tot voorstelle om ’n klas-aksie teen die munisipaliteit te begin.Carte Blancheis gekontak, asook verskeie televisie-nuuskanale.

Inwoners het klagte ingedien by die Suid-Afrikaanse Mensregtekommissie, die president se noodlyn vir klagtes, asook AfriForum. Inwoners dring nou aan op ’n vergadering met Matjhabeng se burgemeester.

Gemoedere loop hoog omdat niemand werklik kan verduidelik waar die probleem is nie, sê Chrystelle Erasmus, inwoner sedert 1980.

Die oorname van Sedibeng deur Bloemwater word as ’n algehele mislukking beskou.

In dié stadium is dit net die hoogliggende dele van die woonbuurt wat geen water het nie. Inwoners met boorgate en die NG Erfdeel-gemeente het hul hekke oopgegooi vir diegene wat water nodig het.

Op 24 Januarie is ’n verklaring uitgereik dat die pompe by De Erf nie werk nie; om die pompe te herstel, moet die pypleiding leeg wees en gedreineer word. Kenners op hierdie gebied het dit afgemaak as die “grootste klomp snert” wat hulle nog gehoor het.

Riebeeckstad se water­probleem het sedert 2020 baie vererger en statistieke toon dat die woonbuurt maandeliks ’n hele paar dae sonder water is. Die afgelope paar maande, sedert Oktober verlede jaar, het die dae weke geword.

Die woonbuurt, met sy meer as 1 000 huishoudings, se betalingskoers van 83% is van die hoogste in Matjhabeng.

Erasmus sê Riebeeckstad moes nog altyd aan die agterspeen suig, al is dit een van die grootste woonbuurte in Matjhabeng.

“Ons word nou tot breekpunt gebring. Dit is onmenslik om so lank sonder water te wees – en ’n skending van menseregte. As groot areas in die land twee of drie dae sonder water is, word dit op alle nuuskanale uitgesaai, maar hier raak dit weke lank. As ons vir ’n dag of twee water kry, jubel almal oor water, wat eintlik ’n basiese reg is.”

Nog ’n jarelange inwoner, Dirk Kotze, sê die gebrek aan inligting en kommunikasie is vir hom die grootste probleem.

“Daar word nie oop kaarte gespeel nie, almal het ’n ander storie, en Riebeeckstad se besighede kry ook swaar. Karwas-ondernemings staan stil en ou mense loop in die strate met houers in kruiwaens om water te gaan haal.”

Marie van Rooyen, raadslid vir wyk 25, sê dié probleem is baie oud, en herhaal keer op keer terwyl duisende liters skoon water uit waterlekke en gebarste pype stroom, teen astronomiese koste.

“Die inwoners eis antwoorde en oplossings om herhalings hiervan te voorkom.”

You need to be Logged In to leave a comment.