Britney wou altyd ander mense help. Sy was ’n vrygewige mens, en haar laaste gebaar was om verskeie mense die tweede kans op lewe te gee.

“Met haar dood is haar organe geskenk en daardeur het ander mense weer hoop op lewe ontvang,” sê haar ma Belinda Petzer.

“Britney (19) sou dit so wou gehad het. Sy en haar sussie Brenda het voor haar dood orgaan-skening bespreek. Sy wou dit graag doen.

“Die koördineerders wat die proses gefasiliteer het was baie behulpsaam en dit só vergemaklik. Alles het vlot verloop,” sê haar ma Belinda.

Britney Lee is op 19 Augustus na ’n kort siekte breindood verklaar.

“Ons moes wag vir al die prosesse om voltooi te word en haar organe is op 22 Augustus geoes,” sê haar ma.

Belinda sê Britney was haar sonskynkind.

“Sy het voluit gelewe, en alles gedoen wat sy moontlik kon gedurende haar kort tyd op hierdie aarde.

“Sy het alle sportsoorte probeer, in gr. 7 was sy onderhoofmeisie by die Laerskool St Helena en sy was ’n topleerling by Goudveld-Hoërskool waar sy gematrikuleer het,” sê Belinda.

Sy vertel hoe Britney sê voorskool juffrou die dag onthou toe Britney ’n maatjie wie gehuil het getroos het.

“Sy het vir die maatjie vertel sy moenie huil nie, sy sal haar hartjie vir haar gee,” sê Belinda.

Sy sê Britney was op skool ’n teruggetrokke kind.

Sy was baie privaat, maar het ’n baie goeie humorsin gehad en het graag grappies gemaak. Maar toe sy as kelnerin begin werk het, het sy bietjie vir bietjie uit haar dop gekruip.

Mense was aangetrokke tot haar en almal het geweet wie sy was.

“Sy wou nooit universiteit toe gaan nie, en het verlede jaar vir ses weke in die Kaap ’n seiljag-kursus voltooi.

“Sy wou op die bote gaan werk en het kelnerinwerk gedoen om fondse hiervoor bymekaar te maak.

Britney sou in November haar 20ste verjaardag gevier het.

“My dogters is ver uit mekaar en Britney was ons baba. Brenda is 11 jaar ouer as Britney gewees, en daar was agt jaar tussen ons middel kind Bianca en Britney gewees.

“Die twee meisies het Britney se naam gekies. Dit is die jare toe Britney Spiers bekendheid verwerf het,” sê Belinda met emosie.

Britney word oorleef deur haar pa Johan Lee, haar ma Belinda en haar sussies Brenda Neethling en Bianca Lee.

You need to be Logged In to leave a comment.