Die inligting rondom die cholera-uitbreking in Matjhabeng is ontstellend en veroorsaak onnodige paniek onder die gemeenskap.
So sê Khaya Mqeke, kommunikasiebestuurder van die Lejweleputswa-distriksraad. Hy sê die gesondheidsdienste van die Lejeleputswa-munisipaliteit doen maandelikse drinkwatertoetse met ’n betroubare laboratorium en het geen cholera opgespoor nie.
“Ons het ook toegang tot die aanmeldbare mediese toestande (NMC)-App van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) wat gevalle in reële tyd uitstuur. Ons het nog geen gevalle van cholera in die distrik ontvang nie,” bevestig Mqeke.
Hy sê die water wat inwoners drink word effektief by die Balkfontein-wateraanleg behandel.
Dié afdeling is verplig om die gemeenskap in te lig indien die waterbronne nie veilig is vir verbruik nie. Terwyl die water in die stelsel is, word dit voortdurend met chloor versterk om mikro-organismes te vernietig, maar sodra die water uit die stelsel verwyder is, begin die gehalte agteruitgaan omdat chloor verdamp.
“Hierdie huishoudelike chlorering is net so effektief soos die industriële chlorering. Bleikmiddel is ’n chemikalieë, daarom kan oordosering skadelik vir menslike gesondheid wees. Om die water vir 2 minute te kook voor gebruik is ook effektief om die mikrobes te vernietig,” sê Mqeke.
Wêreldwyd word cholera beskou as een van die vinnigste en dodelikste siektes aangesien dit ernstige diarree en braking veroorsaak, wat lei tot dehidrasie, skok en moontlike dood.
Die siekte word veroorsaak deur ’n spesifieke bakterie genaamd vibrio cholerae, wat die menslike ingewande binnedring en ’n kragtige gifstof produseer wat oormatige verlies van water en elektroliete uit die liggaam veroorsaak. Dít lei weer tot massiewe, los diarree-stoelgange, wat gepaard gaan met herhaaldelike braking. Dít veroorsaak erge dehidrasie en as dit nie behandel word nie, kan dit binne ’n kwessie van ure dodelik wees vir die pasiënt.
Die veroorsakende bakterie word gevind in voedsel- en waterbronne wat deur die ontlasting van ’n besmette persoon besoedel is. Die oordrag van die siekte is hoog in plekke met swak watertoevoer en onbehoorlike sanitêre toestande.
Mqeke sê dit is bekend dat waterbronne soos damme, riviere, strome, mere en ander oop waterbronne die bakterieë huisves en kan aan verskeie persone oorgedra word deur voedsel en drank wat uit hierdie waterbronne verkry word. “Groente wat met besmette menslike afval as kunsmis gekweek word, kan ook aansteeklik wees, insluitend die verbruik van rou vis en ander mariene voedselbronne wat uit besoedelde water verkry word,” meen hy.
In geval van diarree, raadpleeg ’n gesondheidsfasiliteit. ’n Rehidrasie-mengsel moet ook voorberei word.
Om die mengsel te maak is ’n liter gekookte water, agt teelepels suiker en een teelepel sout benodig. Dit word dan ná elke braking of toiletbesoek gedrink.
“Was jou hande met water en seep nadat jy toilet toe gegaan het, voordat jy kos hanteer, voordat jy eet, nadat jy ’n doek omgeruil het en nadat jy jou neus geblaas het. Boorgatwater moet ook gekook of gechloreer word voordat dit gedrink word.”