Die haglike toestand van die Bothaville-vullisterrein. Foto: AfriForum


Dringende antwoorde oor die haglike toestande by die Bothaville-vullisstortingsterrein word vanaf gevra.

Die Bothaville-vullisterrein se toestande is haaglik Foto: AfriForum

Die AfriForum-tak in Bothaville eis antwoorde van die Nala plaaslike munisipaliteit oor dié vullisterrein.

Die terrein voldoen aan geen wetlike vereistes nie.

Een van die tekortkominge is onder meer die feit dat die terrein bykans oorvol is.

In ’n brief vra AfriForum die Nala-munisipaliteit of daar al ’n nuwe terrein geïdentifiseer is en indien wel, of daar ’n omgewingsimpakstudie gedoen is.

Dié brief is op Vrydag 11 Oktober aan die munisipaliteit gestuur.

Daar is ook geen heining om die terrein nie, wat tot gevolg het dat die vullis oral waai en die omgewing besoedel.

Nog ’n tekortkoming is dat daar geen vorm van toegangsbeheer of sekuriteit op die terrein is nie.

Dit veroorsaak dat mense vullis onwettig langs die pad na die vullisterrein stort, want hulle is te bang om tot daar te gaan aangesien verdagte persone op die terrein is.

Boonop is die pad na die vullisterrein in so ’n haglike toestand dat motoriste nie daar wil ry nie, omdat dit hul motorbande beskadig.

Dit het tot gevolg dat vullis selfs in die dorp onwettig gestort word.

Verder moet die vullisterrein daagliks gekompakteer word en met ’n laag grond bedek word.

Dit gebeur egter bykans nooit nie omdat daar nie werkende masjinerie is om dit mee te doen nie.

Die pad word nou en dan – hoofsaaklik wanneer dit alreeds onbegaanbaar is – geskraap, wat nie genoeg is nie. AfriForum vra in die brief dat die pad minstens twee maal per maand geskraap word.

Die AfriForum-tak gee die Nala-munisipaliteit tot einde Oktober om iets daadwerkliks aan die vullisterrein te doen. Die tak het ook aangebied om die munisipaliteit te help om die vullisterrein weer op standaard te kry.

“Hierdie is net enkele van die Bothaville-vullisterrein se tekortkominge. Dit is skokkend dat ’n munisipale vullisterrein tot hierdie vlak verwaarloos word. Ek hoop van harte dat die munisipaliteit AfriForum se helpende hand sal aanvaar,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

You need to be Logged In to leave a comment.