Tydens twee groot deurbrake het die provinsiale anti-bende-eenheid drie van die mees gesoekte bendeleiers in Welkom en Bronville gevang, en ook vier lede van die gerugte hamerbende in hegtenis geneem.
Dié optredes was op 18 Augustus in Welkom, Bronville en Thabong deur dié eenheid uitgevoer.
In Welkom het die polisie twee buitelandse burgers met een swart Parabellum Z88-pistool en 15 rondes lewendige ammunisie gekry.
Daar is ook beslag gelê op ’n swart en goud Star Norinco-pistool met vyf lewendige rondes ammunisie. Hierdie vuurwapen is gesteel tydens ’n huisbraak en diefstal wat gedurende April 2022 in Klerksdorp plaasgevind het. Hulle het ook ’n bykomende magasyn met dertien lewendige rondes gekry. Die reeksnommers van albei vuurwapens is afgevyl.
Hierdie twee verdagtes kan verbind word met ander sake van moord en rooftogte wat in die Matjhabeng-omgewing plaasgevind het.
Op dieselfde dag in Thabong was daar inligting oor die mees gesoekte lede van die hamerbende ontvang.
Onder leiding van kapt. Freddie Deysel het die misdaadintelligensie-eenheid ’n huis in Gugulethu in Thabong genader en drie buitelandse burgers en ’n Suid-Afrikaanse man (almal tussen die ouderdomme van 29 tot 39 jaar) in hegtenis geneem.
Hulle was in besit van 4,2 kg gouddraende materiaal en R523 kontant.
Kapt. Stephen Thakeng, media-skakelbeampte van die Lejweleputswa-polisie, sê die verdagtes sal verbind word met ander uitstaande sake van inbrake wat in Thabong plaasgevind het.
Tydens die voorvalle wat met die hamerbende gekoppel word, is die mure van snoepies met hamers omgeslaan om toegang te verkry. Die waardevolle besittings, kruideniersware en kontant van buitlandse sakemense is só beroof.
In ’n aparte voorval op dieselfde dag by ’n huis in Jupiterstraat, Mandela Park, Bronville, is ’n 24-jarige buitelander in besit van ’n 357 Magnum-rewolwer met ses lewendige rondes ammunisie in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op items met ’n straatwaarde van R15 500. Die man kan ook verbind word met rooftogte wat in die Welkom-gebied plaasgevind het.