Drie mense van Pretoria het in verband met ontvoering, statutêre verkragting en kinderpornografie in die hof in Hennenman verskyn nadat ’n 15-jarige meisie verdwyn het.
Ernest Taylor (50), Chantell Cronjé (40) en Rudy Cronjé (22) is op 28 Desember by Vredefort in hegtenis geneem, enkele ure nadat die meisie se ma haar as vermis aangemeld het.
Nie al drie staan te reg op al die klagte nie.
Chantell Cronjé is die ma van Rudy, en Taylor is sy stiefpa.
“Die kind se selfoon was reeds aan ’n pandjieswinkel in Vredefort verkoop toe die polisie die bakkie buite Vredefort voorgekeer het,” sê kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder.
Thakeng sê die meisie het op die betrokke Woensdagmiddag vir haar ma gesê sy gaan buite die huis tyd deurbring, toe sy weggeraak het.
Haar ma het agtergekom sy is nie meer by die huis nie en het onmiddellik inwoners op die dorp se WhatsApp-groepe om hulp gevra om haar dogter op te spoor.
’n Buurtwaglid van die dorp, Nico Pieterse, het gesien hoe die tiener in ’n Ford Ranger-bakkie klim en die ma gekontak.
Die bakkie is volgens inligting reeds die vorige dag in Hennenman gesien waar dit in ’n straat geparkeer was.
Die insittendes kon in daardie stadium glo nie aan Pieterse of die polisie verduidelik waarom hulle in Hennenman is nie en die voertuig is as verdag beskou.
Die polisie in Hennenman het onmiddellik polisiekantore in die Vrystaat gevra om op die uitkyk te wees sodat die bakkie opgespoor kan word en dit is danksy padkameras opgemerk waar dit in die rigting van Parys ry.
Thakeng sê die polisie het op die bakkie, die kind se selfoon en nog ander selfone beslag gelê.
Hy sê Rudy het die tienermeisie na bewering op Facebook bevriend en ’n aanlyn verhouding met haar aangeknoop.
Thakeng maan ouers om van tyd tot tyd te kyk met wie hul kinders op die sosiale media vriende maak en om bedag te wees op die gevare van volwassenes wat minderjariges wil misbruik.
Die drie is in aanhouding en sal Maandag (16/01) weer in die hof verskyn.