Drie mans is gister deur die Kroonstad-landdroshof vir diefstal van beskermde plante ter waarde van meer as R2 miljoen, gevonnis.
Shadrack Matambo (43), Leonard Khumalo (53) en Thabani Sibanda (39) is op 13 September 2022 deur ’n verkeersbeampte by ’n vulstasie langs die N1 naby Kroonstad opgemerk. Sy het hulle oor die vervoer van verdagte vrag gekonfronteer, maar hulle kon daarin slaag om te vlug terwyl sy hulle na die polisiestasie begelei het.
Die verdagtes het die voertuig waarin hulle gery het, saam met 50 broodbome, net daar gelos en gevlug.
Hulle het glo nie ’n permit gehad om die plante te besit of te vervoer nie.
Op 21 Desember 2022 is lede van die Welkomse eenheid teen georganiseerde misdaad (SOCI) en taktiese reaksiespan (TRT) na Gauteng gelei waar die eerste verdagte (Matambo) suksesvol opgespoor is. Hulle het hom in hegtenis geneem.
’n Opsporingsoperasie is op 16 Februarie deur die Welkom SOCI en Sasolburg TRT uitgevoer nadat inligting oor waar die ander twee verdagtes hulle bevind, ontvang is. Khumalo en Sibanda is in Gauteng vasgekeer.
Die Zimbabwiese Matambo is tot tien-jaar tronkstraf vir diefstal en drie maande omdat hy onwettig in Suid-Afrika was, gevonnis. Khumalo is tot twaalf-jaar tronkstraf vir diefstal gevonnis, terwyl Sibanda agt-jaar tronkstraf sal uitdien. Boonop is die beskuldigdes onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.