Vier jaar ná ’n grusame aanval op ’n 71-jarige vrou op die plaas Môrester in die Bothaville-distrik, is drie beskuldigdes tot ’n gesamentlike 112 jaar gevonnis.
Die plaasaanval op die vrou het in Maart 2020 plaasgevind.
Die mans, Moletsi William Masoela, Moketsie Phendas Mototo en Mpho Isaac Lesenyeho, is Donderdag 26 September in die rondgaande hooggeregshof in Welkom gevonnis nadat hulle elk skuldig bevind is op aanklagte van gewapende roof, poging tot moord en onwettige besit van geroofde vuurwapens en ammunisie.
Maseola van die Kgotsong-woonbuurt in Bothaville het skuld beken, en hy is tot 32 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy sal effektief 12 jaar uitdien. Hy het ook teen die ander twee getuig.
Mototo, die plaaswerker wat betrokke was, is tot 53 jaar gevonnis, terwyl die ander beskuldigde, Lesenyeho, wat reeds 18 jaar vir ’n ander verkragtingssaak uitdien, tot 47 jaar gevonnis is.
Mototo het op die plaas gewerk en gewoon tydens die aanval.
Dié twee beskuldigdes gaan effektief 25 jaar van hulle vonnise uitdien.
Tydens die aanval, is die bejaarde vrou 11 keer met ’n mes in haar bo-lyf gesteek, daar is talle kere gepoog om haar met haar eie vuurwapen te skiet, maar die skote het nie afgegaan nie.
Die steekwonde het twee keer haar longe binnegedring.
Adv. Orpa Wessels sê dit het die polisie vier jaar geneem om hulle ondersoek af te handel en die saak te verhoor.
“Die slagoffer sukkel om normaal te funksioneer. Sy ink voortdurend daaraan dat haar storie iemand anders kan help, wat deur dieselfde trauma gaan. Ons probeer haar help om ’n nuwe rede vir lewe te vind,” sê Wessels.