Hannelie en haar man, Dr Francois de Wet, verlaat die Goudveld en sal hulle eersdaags in Brenton-on-Sea by Knysna vestig.Foto: Verskaf


Die bekende Goudveldse algemene praktisyn dr. Francois de Wet tree einde Februarie ná 32 jaar by sy praktyk in Riebeeckstad af.

Hy en sy vrou van 36 jaar, Hannelie, gaan hulle in Brenton-On-Sea vestig.

Hy gaan daar die George-lughawe se vlieëniers se mediese klaring behartig en sal ook afloswerk by ander dokters doen.

Gebore in Virginia in 1963, is De Wet ’n Goudvelder deur en deur en sy familie was een van die eerste boere pionier in die Winburg-omgewing.

De Wet is bekend in die streek as dokter, vriend, jagter, vlieënier, marathon-atleet en familie-man.

Hy is ook vir sy liefde en omgee vir sy medemens bekend laat hy diep spore na.

De Wet het in 1981 aan Grey-kollege College in Bloemfontein gematrikuleer en sy vrou Hannelie, wat hy as sy skoolkys beskryf, het in 1982 aan die Hoër Meisieskool Oranje gematrikuleer.

“Met ons eerste skooldans in 1981 was dit liefde met die eerste oogopslag en ons is sedertien saam”.

Hulle het hul studies by die Universiteit van die Vrystaat (UV) voltooi, hy as ’n mediese dokter en sy as onderwyser.

Die egpaar is in 1987 in Bloemfontein getroud en De Wet het by die ou Provinsiale Hospitaal in Welkom sy praktiese jaar voltooi.

Dit is hier waar hy sy vennoot van baie jare, dr. Peet van der Vyver, ontmoet het.

Hy is in 1989 weermag toe en het by die mediese korps in Voortrekker Hoogte aangesluit. In Junie en Julie van daardie jaar is hy terug na Bloemfontein na die 3 Militêre Hospitaal.

Hy het onder meer as weermagvlieënier by Bloemspruit gekwalifiseer.

Hy het in 1990 ook ’n vlieënier geword en het sy private lisensie bekom.

In Julie 1990 het De Wet sy diploma in narkose voltooi en het op 1 Maart 1991 by Van Der Vyver se praktyk in Riebeeckstad aangesluit.

Dr. Piet Rossouw het in 1994 by die praktyk ingeval, maar het later in 1994 na Kanada verhuis.

In 1996 het Dr. Pierre Vivier by die praktyk aangesluit. Dr Van der Vyver het in 2000 na Engeland verhuis en Dr Vivier het die praktyk in 2002 verlaat.

Sedertien was De Wet alleen by die praktyk in Riebeeckstad.

Hy is huidiglik aktief in die vliegwêreld en Hy het al vyf keer die Presidentstrofee, die grootste vliegwedstryd in Afrika, gevlieg.

De Wet is ook lid van die Noord-Vrystaatse jagvereniging waar hy ’n baan-offisier en herlaaier is.

Hy het ook al tien Argus-padwedlope van 1994 tot 2003 voltooi.

Hy boer nog in die Winburg-distrik waar hy alleen die twee familieplase die afgelope tien jaar bestuur.

De Wet sê die mediese dokters in die Goudveld, of hulle nou huisdokters of spesialiste of tandartse is, het baie goeie verhoudinge met mekaar.

“Dit was baie aangenaam vir my om ’n dokter in hierdie gemeenskap te wees.

“Ek gaan die Goudveld en die mense mis. Ek is dankbaar vir al my pasiënte oor die meer as 30 jaar as dokter hier. Die Goudveld se mense is die sout van die aarde.”

Wat De Wet beskou as die laagste punt van sy ervarings in die streek, is die verval van ’n eens prentjie-mooi wêreld.

“Virginia was bekend as die tuindorp, Welkom vir sy groot en lowergroen parke.

“Ek gaan beslis nie die verval en agteruitgang mis nie. Dit is hartseer wat gebeur het,” sê hy.

Ek gaan die Goudveld en die mense mis. Ek is dankbaar vir al my

pasiënte oor die meer as 30 jaar as dokter hier.

– Dr. Francois de Wet

You need to be Logged In to leave a comment.