’n Jaar terug was twee mediese dokters van Welkom nog vreemdelinge vir mekaar, en vandag is hulle gesamentlik as wêrelddanskampioene gekroon.
Sara-Mari Burger en Wynand Bezuidenhout is op 29 Junie as wêreldkampioene in die afdeling vir klassieke danspare aangewys.
Burger het in Williston in die Noord-Kaap grootgeword.
Sy het haar skoolloopbaan in die Wes-Kaap voltooi en medies aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer.
Bezuidenhout het in Cradock grootgeword. Hy het sy skoolloopbaan in Cradock voltooi en medies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer.
Dié twee is vir hul diensjare by die Bongani-hospitaal in Welkom geplaas. Met geselsies oor ditjies en datjies toe hulle in 2023 ontmoet het, het hulle besef dat hulle ’n belangstelling in kuns, kultuur, dans en musiek deel. Dit het die twee laat besluit om om saam-saam ’n dansskool te soek.
Hulle het hulle by die Studio1-dansateljee aangesluit.
Die instrukteurs van Studio1, Annaline en Johan Bakker, het hulle gevra of hulle daarin belangstel om aan Suid-Afrikaanse country western-kompetisies deel te neem.
Hulle het begin oefen en verlede jaar in Oktober op die Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms gekwalifiseer om Suid-Afrika in Junie vanjaar op die wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Spanje te verteenwoordig. Dit is hier waar hulle as kampioene gekroon is.
“Ons is oorweldig met dankbaarheid. Hierdie ervaring bevestig weer dat ons pad klaar uitgewerk is en dat ons dit self nie beter kan beplan nie. Ons moet net glo en vertrou,” sê Burger en Bezuidenhout.