Die Laerskool Riebeeckstad se gr. 2-leerlinge het onlangs ’n spesiale kuiergas gehad.
Abigail Pienaar is na die skool genooi sodat leerlinge meer oor haar gestremdheid kan leer. Sy het ’n aangebore glikosilering-steurnis (CDG).
Die skool het op 16 Mei Wêreld-CDG-dag gevier en ook bewusmaking oor dié seldsame steurnis gedoen. Abigail het dié dag saam met die leerlinge by die skool deurgebring.
Die besoek is gereël om aan te sluit by die tema “Gestemdhede”, ’n onderwerp waaroor die gr. 2-leerlinge tans leer.
Op 28 Februarie het die Laerskool Riebeeckstad se onderwysers ook die wêrelddag vir seldsame siektes saam met Abigail en haar gesin gevier.
Abigail is een van slegs honderd CDG-ALG6 pasiënte van oor die wêreld heen. Daar is sewe in Suid-Afrika en Abi is die enigste pasiënt in die Vrystaat.
CDG is ’n genetiese afwyking wat die metabolisme beïnvloed. Om ’n CDG-diagnose te kry moet ’n bloedmonster vir toetsing na Amerika of België gestuur word.
Dit is ’n ongeneeslike siekte en slegs die simptome kan behandel word.
Abigail het 24-uur-sorg nodig. Sy volg ook ’n spesiale dieet om te verseker dat sy genoeg voeding kry.