Om in Welkom te bly, bied die afgelope aantal jare baie uitdagings.
Jy moet om al die slaggate in die pad ry. Jy moet gedurig dophou wanneer die krag af is en vir jou ’n watertenk en ’n pomp aanskaf omdat die watertoevoer nou elke dag vir 12 ure lank afgesluit is.
Baie mense vertel hoe mooi Welkom was. Dit was ’n modeldorp. Ongelukkig het daar net bossies en gate oorgebly.
Welkom se ekonomie is ook nie meer goed nie. Daar is gereeld besighede wat toemaak. Ook met die kerke gaan dit nie so wonderlik nie.
Baie kerke sukkel om net kop bo water te hou en ’n paar het al opgegee en toegemaak.
Nou kom die gedagte by jou op: Wat is die Here se plan met al hierdie dinge?
Die eerste vraag sal waarskynlik wees: Het Hy ’n plan met dit alles? Die eintlike vraag is: Wat doen jy daaraan? Jy kan nie net kla en moedeloos wees nie.
Nêrens in die Bybel belowe die Here dat dit altyd net goed sal gaan met sy kinders nie.
Hy belowe wel dat Hy ons nooit alleen los nie. Hy is altyd by ons.
In Matteus 5 sê Jesus vir sy volgelinge: “Julle is die sout vir die aarde, en julle is die lig vir die wêreld.”
Hy sê sy kinders moet ’n verskil in die wêreld gaan maak. Soos sout smaak gee aan kos en dit beter en lekkerder maak, so moet ons die wêreld om ons ’n beter en lekkerder plek maak.
Soos wat lig raakgesien word, so sien mense ons raak en hulle kyk hoe ons dinge doen en hanteer.
Die Here wil jou gebruik om ’n verskil te maak. Gaan wees sout en lig vir die wêreld. – Lood Oliver is leraar aan die NG kerk Welkom-Noord