Dit is belangrik om tyd te maak en te besin oor hoe en wat jy glo

Die afgelope paar maande kyk ek na gelowiges en ek wonder: “Glo mense regtig?”.

Ds Christo Nel, NG Gemeente Riebeeckstad.

Credit: SYSTEM

Die afgelope paar maande kyk ek na gelowiges en ek wonder: “Glo mense regtig?”

Natuurlik het ek dit vir myself gevra, en daarmee saam: “Wat glo ons?”

Is ons geloof in die drie-enige God net iets wat ons soos ’n spaarwiel in die kattebak van ons menswees bêre, en uithaal as ons probleme het?

Dit wil vir my so voorkom. Die hartseer is dat baie mense dan erg ontnugter is wanneer God hulle nie as spaarwiel (met respek gesê) help nie.

Baie mense se geloof bestaan dus net uit geloof wat voordele inhou, maar is dit geloof? Of het God dan net ’n gebruiksartikel geword, ’n 911-nooddienswerker?

As ons geloof so oppervlakkig geword het dat geloof net vir ons voordele moet inhou, is ons Christelike geloof in groot moeilikheid.

Ek moes vroeg in my lewe vir myself uitklaar wat dit vir my beteken om te glo, en ook wat ek glo. Wel, ek glo in God Drie-enig omdat Hy God is. Ek glo nie omdat Hy vir my voordelig is nie.

Ek staan verstom oor Sy grootheid, alomteenwoordigheid, heiligheid, alwetendheid, volmaakte liefdevolle teenwoordigheid en vele meer.

My liefde vir Hom is meer as net wat Hy vir my kan beteken.

Ek het Hom lief omdat Hy is wie Hy is.

En weet julle wat? Skielik is ek nie meer heeltyd besig om God te bevraagteken nie; nie heeltyd kwaad, ontnugter of teleurgesteld omdat Hy nie alles doen soos ek gevra het nie.

Sjoe, wat ’n wonderlike bevryding en wat ’n wonderlike geloofservaring.

Maar nou moet ek vir julle vra? Is dit nie miskien tyd om “hoekom” jy glo te besoek en te heroorweeg nie?

Glo omdat God God is, en vertrou Hom ongeag of jou gebede beantwoord word of nie.

Glo ongeag of dit goed of sleg gaan. Glo onvoorwaardelik in die drie-enige God.

Lees Hebreërs 11 en dink na oor jou geloof.


) Ds. Christo Nel is leraar van die NG kerk Riebeeckstad se moedergemeente.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.