Louis Massyn nadat hy sy sesde groot stadsmarathon voltooi het. Dié mylpaal het hy Sondag (05/03) in Tokio bereik. Hoewel hy by die 25 km-merk gestruikel het en skraapwonde opgedoen het, het hy volhard om die eindstreep te haal. Regs: Só lyk die 6-ster-medalje, asook die medalje vir vanjaar se Tokio-marathon. Foto: Verskaf


Louis Massyn het nie net sy sesde groot stads marathon klaar gemaak, maar hy het ook die gesogte 6 ster medalje ontvang toe hy die Tokyo Marathon Sondag voltooi het. Sy naam is nou aangeteken in die Guinness Book of World Records. Foto: Verskaf

Louis Massyn (72) het ná die voltooiing van die Tokio-marathon ’n sesde groot stadsmarathon op sy kerfstok en het boonop hiermee die gesogte 6-ster-medalje verwerf. Hiervoor word sy naam in die Guinness World Records aangeteken.

“Ek is een van meer as 3 000 atlete wat die 6-ster-medalje Sondag (05/03) ontvang het,” sê Massyn.

“Ons is nou ook in die Guinness World Records aangeteken as die atlete wat die groot ses marathons voltooi het. Dit is: Londen, Chicago, Berlyn, Boston, New York City en Tokio.”

Massyn sê die Tokio-marathon van 2023 was baie goed aangebied.

“Dit was ’n ervaring duisend,” sê Massyn.

Hy het met die Suid-Afrikaanse kleure gehardloop en meen dit is goed deur ondersteuners langs die roete ontvang.

“Hulle het my aangemoedig met uitroepe soos ‘Go South Africa!’ en ‘Go Springbok!’.

“By die eindpunt was ek werklik baie emosioneel ná die voltooiing van hierdie marathon,” sê hy.

Massyn het by die 25 km-merk gestruikel en erge skraapwonde opgedoen, maar hy is nie ernstig beseer nie en kon die marathon in 4:44:24 klaarmaak.

“Ek het ná my val baie ondersteuning van verskeie mede-atlete van verskillende lande ontvang.”

Massyn het op 5 Augustus 2022 ’n knie­operasie ondergaan, maar dit het hom nie gestuit nie. Hy het daarna die Londen- en Chicago-marathon voltooi.

“Ek voel baie goed. Ons was omtrent 40 Suid-Afrikaners wat aan die Tokio-marathon deelgeneem het, en ses Suid-Afrikaners het die gesogte 6-ster-medalje ontvang,” sê Massyn.

Altesaam 38 000 atlete van oor die wêreld heen het aan die 16de Tokio-marathon deelgeneem.

Dit was die eerste keer in vier jaar dat dié stadsmarathon aangebied is.

You need to be Logged In to leave a comment.