Johan de Lange, Naudeville, Welkom:

’n Mens kan sekerlik nog honderde byvoeglike naamwoorde by die naam van hierdie onbeholpe stadsraad van ons voeg en almal sal van toepassing wees.

Krisisse wat opduik word net eenvoudig onder die mat ingevee en daar kom geen oplossing te voorskyn nie.

Per slot van rekening, hulle naam is nie verniet “Matjhabeng” nie. Alles word eenvoudig onder die mat ingevee met ’n geweldige “bang” en daarvan word vergeet.

Asof dit nie genoeg is dat daar meer slaggate as teerstrate is nie, moet ons nog daagliks in verskeie voorstede, waarvan Naudeville een is, sonder water sit omdat hulle versuim om hulle rekening by Rand Water Board te betaal.

Die waterraad verminder sy toevoer tot omtrent 30 %.

Dit is alreeds ’n reuse vermindering. Ter verergering van die saak gaan ons stadsraad en sny dit nog verder sodat daar geen lopende water in die voorstede is nie.

Veral ná 16:00. Dit is juis die tyd wat waterverbruik sy piek bereik.

Na die beste van my wete is dit onwettig om dit te doen omdat water ’n lewensmiddel is waarvan almal totaal afhanklik is.

Dit laat ernstige twyfel ontstaan of hierdie mense regtig vir die wet of vir die mense wat hulle ingestem het omgee.

Dit kan eenvoudig net nie so aangaan nie. Dit is heeltemal onaanvaarbaar.

Die stadsraad moet sy eendjies in ’n ry kry.

Ek weet nie hoe die ouers vir hulle gesinne voedsel voorberei of stort of enige ander aktiwiteit waarby water betrokke is kan regkry nie.

Die somer is net om die draai, en dan beter hierdie dinge in orde wees. Dan gebruik mense nog meer water.

Ek dink dit was Louis L’Amour die bekende “western” skrywer wat eenmaal geskryf het: “Beware the wrath of the little people.”

You need to be Logged In to leave a comment.