Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:

Dit is werklik net genade dat hier nog nie in McLeanstraat noodlottige ongelukke was nie. Hierdie slaggate is regtig gevaarlik.

Dit is ’n hoofpad wat ook ontsettend besig is. Die slaggate is gevul met bakstene en kan voertuie se bande verniel.

Ek was onlangs amper in ’n trompop-botsing met ’n aankomende taxi betrokke.

Hierdie taxi het reg op my afgepeil en ek het in een van die slaggate beland.

Hy het kinders vervoer wat toe sommer ook hulle bottels en papiere by die vensters uitgesmyt het.

Dit is werklik een groot skande en ek voel dat die verkeersbeamptes hier waar die slaggate is die verkeer moet kom reguleer.

Hier sal dringend aandag gegee moet word aan hierdie slaggate.

Ek versoek die burgemeester en die bestuur van Matjhabeng om te kom kyk na hierdie gevaarlike omstandighede.

Dit voel net vir my of ons Riebeeckstadters vergete gelaat is.

Asseblief, meneer burgemeester van Matjhabeng kom kyk vir jouself wat hier aangaan. Straatligte brand 24/7, en vir die afgelope vyf weke is ons vullissakke nie opgelaai nie.

Wurms peul by die sakke uit en die rotte baljaar te lekker by die oop vullissakke wat deur verwaarloosde, rondloper honde oopgeskeur word opsoek na iets om te eet.

Ek weier om die munisipaliteit vir vullisverwydering te betaal.

Matjhabeng se bestuur moet wakker skrik.

Ek voorsien baie groot probleme indien daar nie drasties opgetree gaan word nie.

Ons belastingbetalers is nou keelvol om vir dienste te betaal wat nie gelewer word nie.

Matjhabeng se bestuur is wêreldklaskliëntediens aan die Goudveld verskuldig.

Roei nepotisme, selfverreiking, korrupsie en geldwassery uit.

Doen die werk wat aan julle toevertrou is met trots.

You need to be Logged In to leave a comment.