NA aanleiding van die motorfietsdiefstalle en pogings tot motorfietsdiefstalle die laaste tyd in die Goudveld sal ’n waarskuwing voor die WOMZA Vrystaatse veldren-(motocross) kampioenskap by Phakisa aan die ryers gerig word.
Die voorsitter van die Phakisa Motocross en Off Road-klub, Lourius Erasmus, sê dit is ’n hartseerdag as ryers teen diewe gewaarsku moet word.
“Mense wat normaalweg in die Goudveld sou oorslaap, het besluit om eerder dieselfde aand na hul huise terug te ry. Die diefstal van ’n MX-motorfiets maak mense senuagtig, want soms kom ryers met twee of drie motorfietse op een waentjie na wedrenne en neem in verskeie klasse deel.
“Motorfietse kan nie in ’n gastehuis-kamer vir veiligheid ingestoot word nie. Die meeste MX-motorfietse is nie verseker nie, aangesien dit nie gelisensieerd is en nie op die pad ry nie.”
Die derde ronde van die kampioenskap word Saterdag (25/06) by Phakisa gehou.
Ongeveer 70 ryers van so ver as Johannesburg word verwag en toeskouers kan opwindende wedrenne tussen die voorste jaers in Suid-Afrika verwag.
Die baan, wat in Maart weer ná agt jaar heropen is, is goed voorberei en die kos sal weer deur die Rotary-klub verskaf word.
Daar word ook die eerste keer in die baan se geskiedenis ’n Enduro-wedren aangebied.
Dié baan (14 km) is langs die veldrenbaan en toeskouers kan dus dubbele waarde vir hul geld kry. Daar is twee klasse: Enduro vir tweewiel- en Enduro vir vierwielmotorfietse.
Daar is egter ’n demper op die wedrenne nadat ’n ryer van Bloemfontein, Chris Trimble (nr. 269), se Suzuki RMZ450, asook die waentjie waarop dit vasgemaak was, op 11 Junie omstreeks 18:00 uit die parkeerterrein van die Roversklub in Welkom gesteel is.
Chris en talle ander ryers het dié dag op Phakisa vir Saterdag se wedren kom oefen. Hy het intussen sy beloning vir enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die diewe na R10 000 verhoog.
Vir meer inligting oor Saterdag se wedrenne, kontak vir Lourius Erasmus by 079-495-7223 of Maryke Badenhorst by 079-525-0639.
Audra Visser, ’n gastehuis-eienaar in Welkom, sê hierdie nuus is vir alle gastehuiseienaars ontstellend. Dit gaan beslis die gastehuise benadeel.
“Ons het nog nooit ’n probleem met voertuig- of motorfietsdiefstal ervaar nie. Alle gastehuise in die streek is baie veilig en ons tref ten alle tye voorsorgmaatreëls om gaste se eiendom te beskerm.
“Ons neem kennis van dié buitengewone diefstalneiging en sal veiligheidsmaatreëls opskerp. Ek gaan ook met die organiseerders van Saterdag se wedren hieroor in gesprek tree,” sê Visser
