Dit lyk vir my Christenwees het ’n gemakstoel-godsdiens geword.
Ek is deel van ’n kerk waar almal net moet spring om al my behoeftes aan te spreek.
Elke week moet die dominee of pastoor my bedien met ’n goed voorbereide preek en die musiek moet regtig keurig gekies wees.
Op sy tyd het al hierdie dinge ’n plek, maar wanneer ons as gelowiges agteroor gaan sit en dink “Christenwees is wanneer al my behoeftes aangespreek word . . .” verstaan ons Christenwees heeltemal verkeerd.
Ons is nie deel van ’n kerk sodat ons bedien kan word nie, maar sodat die Koninkryk van God déúr ons uitgebrei kan word. Dit is ons as gelowiges se roeping om hard te werk om die wêreld ’n beter plek te maak.
Soos in die Amerikaanse politiek tereg gesê is: “Ask not what your country can do for you – ask what you can do for your country”.
Net so in die kerk is ons vraag as gelowiges nie wat my kerk vir my kan doen nie, maar wat ek vir my kerk kan doen.
Dit is tyd dat ons die gemaksone van ons geloof verlaat en begin om deel te neem aan God se Koninkryk.
Jou lewensroeping is immers om God te verheerlik en jou medemens te dien.
Dit is tyd dat gelowiges opstaan en God se Koninkryk begin dien met krag wat Hy gegee het. Dit is tyd dat gelowiges hul hande en voete vuil maak en mense nader aan Jesus te bring.
Dit is tyd vir die voorskoot om die middel, sodat ons kan begin voete was. ) Ds. Christo Nel is van die NG gemeente Riebeeckstad.