Emosionele gereedheid is deel van skoolgereedheid voordat jou kind met graad 1 begin.
Wanneer jou graad 1 kind by die skool instap, dra hy twee rugsakkies. Die een is sigbaar en volgepak met penne, potlode, boeke, kosblik, en dies meer. Die ander een is onsigbaar, maar dit is die een wat werklik saakmaak.
Daarin dra die kind sy emosies, verwagtinge, dinge wat by die huis gebeur het, klein oorwinnings wat behaal is, die ouer se oggenddrukkie, die herinnering aan ’n glimlag by die deur. Ander kere dra hy swaar aan die moeilike goed, soos bekommernisse, eensaamheid, ’n gevoel van behoort of nie, gebrek aan selfvertroue – alles wat nie altyd raakgesien word nie en waarvoor hulle nog nie woorde het nie.
Wilna van Rooyen, vroeëkinderontwikkelingspesialis by die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), vertel namens Afrikaans.com meer hieroor.
Faktore wat ‘n rol in skoolgereedheid speel:
- Skoolgereedheid kan nie afgedwing word nie.
- Die groot- en kleinmotoriese vaardighede moet goed ontwikkel wees. Dit help met skryf, knip, speel- en leeraktiwiteite.
- Hierdie motoriese vaardighede help met alledaagse take: Om lank en regop op ’n stoel te kan sit, om van die bord af te kan skryf, om self te teken en in hul boeke te werk.
- Die kind moet kan saamwerk, deel, luister en sy probleme kan beheer en bestuur.
- ’n Positiewe selfbeeld is belangrik sodat die kind nuwe aktiwiteite met geesdrif aanpak en nie bang sal wees om te waag nie.
- Kognitiewe vaardighede om te kan onthou en te konsentreer het baie met emosionele ontwikkeling te doen. Om te organiseer, sorteer, beplan, skeppend te dink, planne te maak, asook probleemoplossing is vaardighede wat ontwikkel terwyl kinders doelgerig speel.
- ‘n Kind moet taalvaardighede hê om te kommunikeer, en in staat wees om vrae te vra, te verstaan en antwoorde te gee. Hy moet kan luister en vertel, stories kan herhaal, en liedjies en rympies memoriseer.
- ‘n Kind moet self kan aantrek, toilet toe gaan en eenvoudige take voltooi.
- Opgewondenheid om skool toe te gaan is nog ‘n aanduiding van skoolgereedheid.
Ouderdom nie noodwendig ’n goeie maatstaf nie
Die vroeëkinderontwikkelingstadium geld van 0 – 9 jaar en sommige kinders is eers op nege gereed. Dit het niks met intellek te make nie en beteken ook nie die kind is minder begaafd nie. Party kinders neem eenvoudig net langer as ander en dis belangrik om te verstaan dat elke kind uniek en teen sy eie tempo ontwikkel en bloot tyd nodig het.

Ontwikkelingsareas wat skoolgereedheid bepaal:
- Fisiese ontwikkeling is die basis vir baie ander vaardighede, soos grootmotoriese vaardighede: balans, koördinasie en spiertonus. Dit is alles vaardighede wat nodig is vir speel en deelname aan liggaamlike aktiwiteite.
- Fynmotoriese vaardighede soos legkaarte bou, sand-en-waterspel, om te frommel, te skeur, te knip, te plak, te verf en ’n potlood korrek vas te hou.
- Taalontwikkeling vir luister, vrae verstaan, idees uitruil en sinvolle gesprekvoering.
- Goeie taalvaardighede bevorder leesbegrip en skryfvermoë en help met effektiewe kommunikasie binne en buite die klaskamer.
- Emosionele en sosiale ontwikkeling stel kinders in staat om hul emosies te erken, te beheer en te bestuur, en help hulle om hul beurt af te wag, saam met ander te werk, en respek vir reëls en gesag te hê.
- ’n Kind wat emosioneel stabiel is, self kan reguleer, impulsiewe optrede kan beheer en emosioneel ontwikkel is, kan optimaal leer.
- Kognitiewe ontwikkeling help die kind om skeppende planne te maak, te dink, redeneer, probleme op te los, vrae te vra en so meer.
- Die kind wat self take kan voltooi en trots is op sy pogings, het selfvertroue wat noodsaaklik is vir sukses binne die skoolomgewing.
- Die kind maak op visuele en ouditiewe waarneming in die klasomgewing staat en om te leer. As hy dus nie goed kan sien of hoor nie, kan dit daartoe lei dat die kind met ’n agterstand begin.
Jou kind is skoolgereed, maar emosionele gereedheid ontbreek: Wat ouers kan doen:
- Benader so ‘n kind met geduld, begrip en doelgerigte ondersteuning.
- Skep ’n veilige en liefdevolle omgewing waarin die kind weet sy gevoelens word erken, aanvaar en verstaan.
- Moedig die kind aan om oor sy emosies te praat.
- Roetine en voorspelbaarheid gee vir kinders ’n gevoel van sekuriteit.
- Wanneer veranderinge onvermydelik is, berei die kind daarop voor, want dit skep veiligheid.
- Gebruik stories, speletjies of rolspel om emosies te bespreek en sosiale situasies te oefen.
- Gee lof en positiewe aanmoediging om selfvertroue te versterk en die kind trots te laat voel op klein suksesse. Byvoorbeeld, sê: “Jinne, jy het dit goed hanteer. Ek is so bly jy het besef jy was bang, maar jy het deurgedruk en dit goed hanteer.”
- Leer jou kind eenvoudige ontspanningsvaardighede soos om diep asem te haal of tot tien te tel as hy kwaad of gespanne voel.
- Maak seker om saam met die onderwyser te werk om konsekwente ondersteuning by die skool te verseker.
- Indien die kind steeds sukkel, is ’n spelterapeut of kinderberader aangewese vir verdere leiding.
Help jou kind om emosies te reguleer:
- Die voorbeeld en ondersteuning deur jou as ouer, is uiters belangrik. Tree self kalm en konsekwent op, want kinders leer emosionele regulering deur ouers.
- Help jou kind om gevoelens te identifiseer en te benoem.
- Gebruik ritmes/roetine en voorspelbaarheid, want dit bied ‘n gevoel van veiligheid.
- Help kinders om te voorspel wat gaan gebeur en verminder so emosionele oorweldiging.
- Kinders moet “nee” kan aanvaar en nie kwaad word as hulle nie hul sin kry nie.
- Hulle moet kan stop en rustig raak om selfregulering toe te pas.
- Oefen sosiale en probleemoplossingsvaardighede deur rolspel of speletjies, sodat hulle kan leer hoe om woede of teleurstelling op ’n positiewe manier te hanteer.
- ’n Kind wat baie onsteld is, kan styf vasgehou word totdat jy voel sy spiere ontspan en sy hart begin rustiger klop.
Wat moet ‘n kind kan doen vir optimale leer?
- Hy moet sy eie gevoelens kan erken en verstaan. So kan hy leer om ander se gevoelens beter te verstaan en daarop te reageer.
- Hy moet emosies in ander raaksien en erken – so ontwikkel ’n kind empatie, wat aangeleer word.
- Emosionele regulering om emosies op ’n gepaste wyse uit te druk, bv. om rustig te raak wanneer hy kwaad is.
- Sosiale vaardighede, soos die vermoë om saam met ander te kan werk, om te kan deel, om sy beurt af te wag, om konflik op te los en om natuurlik maatjies te maak en vriendskappe te bou.
- Stel vaste reëls en grense by die huis en skool vas. So leer die kind sosiale norme en reëls waaraan ’n mens moet voldoen. As reëls by die huis toegepas word, maak dit dissipline by die skool ook makliker.
- ’n Positiewe selfbeeld is onontbeerlik, want die kind se siening van homself het ’n groot invloed op hoe hy ander sien. As hy in homself en sy eie vermoëns glo, sal hy bereid wees om te waag en nuwe aktiwiteite aan te pak.
Vir die volledige artikel op Afrikaans.com, klik hier.
LEES OOK: Beyond the classroom door: When your child is truly ready for school



You must be logged in to post a comment.