Ons nader Paastyd, die kruisiging en opstan- ding van ons Here Jesus Christus. Hierdie is ook vir ons die voorbereiding en versterking van ons geloofspad.
Gen 22: 6, 8 “so het Abraham en sy seun, Isak dan saam geloop” Pa en seun, ouer en kind het saam gestap, ‘n lewenspad maar ook die geloofs-
pad. Die Here wat ‘n vader met sy kind se lewe vertrou. Ons deel soveel met ons kinders, ons stap soveel paaie saam met mekaar.
Dink maar aan die skooltye, sportgeleent-
hede, verhoudinge, maar wat van ons geloofspad. Ons bid vir hulle, maar praat ons met hulle oor hulle geloofslewe.
Kom ons noem dit die Moria-ervaring. Abraham en sy seun Isak is op pad na die offerplek, die berg Moria. Op pad wys albei, Abraham en Isak nie spanning nie.
Abraham en Isak kom by die offerplek en God se stem is stil. Ons beleef ook sulke stil tye en selfs ongemaklike tye met God en geliefdes. Abraham bou ‘n altaar, ‘n offerplek sonder die offerlam. Abraham stap in die geloof. Hier is dit ‘n totale oorgawe, die Here sal voorsien.
Hierteenoor is Isak met sy onbeantwoorde vrae, waarom praat pa nie. Die verhaal op die berg gaan voort. Die offeraltaar getuig van ‘n ontmoetingsplek met God. ‘n Ontmoetingsplek, ‘n stilwordplek, ‘n plek van afsondering en vaste geloof is nodig vir ons geloofslewe. By die offeraltaar voorsien die Here, ‘n offerdier in die plek van Isak. In Jerusalem het ‘n soortgelyke verhaal afgespeel. In die tuin van Getsemane was daar sweetdruppels van bloed.
Die Seun van God was op pad na die berg van voorsiening, Golgota. Hierdie Seun het geweet Hy moes geoffer word.
Op die berg, Golgota het die Offer die ontmoetingsplek tussen God en ‘n mens geword. Die Seun van God word die weg tot saligheid, die weg tot die lewe. Daarom is dit nodig dat ons jaarliks of gereeld die Moria-ervaring met mekaar deel.
Dalk is daar iets in jou lewe wat swaar en moeilik is om te hanteer, dalk kan dit jou selfs laat twyfel. Op die berg van ontmoeting het die onmoontlike gebeur, die Here het voorsien.
Stap die pad met jou geliefdes in geloof en beleef ‘n ware Moria-ervaring.
Dit is die boodskap van Paasfees. Berei jou voor om ‘n ware ontmoeting met die Here te ervaar. Jesus Christus, die Offerlam, is my troos, my weg en my lewe.
■Ds Philip Mc Laren, NG kerk Bedelia