Louis Massyn gaan op 5 Maart aan sy sesde groot marathon ter wêrel­d, die Tokio-marathon, deelneem. Foto: Verskaf


Matjhabeng se marathon-legende Louis Massyn gaan op 5 Maart aan sy sesde groot marathon ter wêreld, die Tokio-marathon, deelneem.

Massyn het reeds die New York-, Berlyn-, Boston-, Londen- en Chicago-marathon voltooi.

“Ná voltooiing van die Tokio-marathon sal ek die gesogte ses-ster-medalje ontvang.

“Meer as 3 000 deelnemers aan die Tokio-marathon sal poog om hul Abbott World Marathon Majors Six Star-reis te voltooi en sodoende, die Guinness-rekord laat spat,” sê Massyn.

Daar is ongeveer 40 000 atlete wat vanjaar aan die marathon in Tokio sal deelneem.

Massyn en Sonja Viljoen van Kroonstad sal die eerste atlete van die omgewing (Lejweleputswa) wees wat die ses-ster-medalje sal ontvang na voltooiing van dié marathon.

Verlede maand het Massyn die plaaslike Mielie-marathon ’n 40ste keer voltooi.

“Sover bekend is ek die eerste atleet wat enige 42 km marathon al 40 keer voltooi het.

“Ek gaan in April ’n 46ste keer die Two Oceans-marathon in Kaapstad aandurf, die meeste vir enige atleet.

“Ek gaan ook vanjaar my 48ste Comrades-marathon in Junie aandurf.”

In Oktober 2022 het Massyn drie marathons voltooi.

Hy het op 2 Oktober die London-marathon gehardloop en ’n week later het hy en Louis Fourie die Chicago-marathon in Amerika aangedurf en voltooi. Fourie se tyd was 4:34:00 en Massyn se tyd 5:31:00.

Dit was Fourie se tweede groot stadsmarathon en Massyn se vyfde.

Op 16 Oktober het Massyn die Detroit Free Press/TCF Bank-marathon gehardloop.

Hy het die wedloopnommer 403 ontvang.

“Dít is ook my Comrades-marathon nommer, asook my Atletiek Suid-Afrika-nommer in Suid-Afrika.”

You need to be Logged In to leave a comment.