Dié Bfn-gesinne trek swaar

Dit gaan regtig swaar met talle Bloemfonteinse inwoners.


Dit gaan regtig swaar met talle Bloemfonteinse inwoners.

So sê Maureen Oosthuizen van Genade in Aksie wat deurlopend help om tussen 4 000 en 6 000 inwoners in die stad met kos, klere en ander noodsaaklikhede te ondersteun.

Sy sê daar is baie mense wat sukkel om werk te kry en met inkomste wat hulle kry as motorwagte of uit sukkelende ondernemings of swak betaalde werk, kan hulle nie die mas opkom nie.

Een so ’n gesin wat soms kospakkies by Genade in Aksie kry en onlangs beddens en beddegoed vir die kinders ontvang het, woon die afgelope jaar in ’n huis in Parkweg.

Die man was in 2018 in ’n ernstige motorongeluk en is sedert die Covid-19-pandemie sonder vaste werk. Tog gaan hy voort om ’n onderneming in sy erf te bedryf vir die vervaardiging van traprelings en stoep-relings van vlekvryestaal. Hy sê soms gaan dit goed, ander kere is besigheid maar stil.

Dié gesin het nie vervoer nie en dit skep heelwat uitdagings.

Oosthuizen sê van die uitdagings waarmee gesinne te kampe het, is die duur kospryse, skoolbenodighede, duur elektrisiteit en klere.

“Kinders groei so vinnig dat nuwe klere gou te klein is. Baie mense het nie vervoer nie of kan nie vervoer bekostig nie. Daar is van die mammas wat vroegoggend saam met hul kinders skool toe stap en daar naby bly om saam met hulle terug te stap huis toe.”

Sy sê Genade in Aksie help ongeveer 111 gesinne in Hilton, 64 in Wilgehof, 84 in Oranjesig, 30 in Vistapark en ongeveer 120 gesinne in Noordhoek en Bayswater.

“In sommige huise bly daar tot 17 mense wat volwassenes en kinders insluit. Dikwels ondersteun gesinne mekaar, maar vir die meeste van hierdie mense is elke dag ’n uitdaging.”

Sy sê die nood is so hoog dat sy op 24 Desember 194 WhatsApp-boodskappe ontvang het van mense wat vra vir iets om te eet op Kersdag. “Mense is gewillig om te gee, maar die nood is regtig groot,” sluit sy af.

Kry meer inligting op Genade in Aksie se Facebookblad.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.